Die konvokasie van Universiteit Stellenbosch het besware teen die konsep-taalbeleid uitgespreek.

Michelle van der Spuy

“Namens die konvokasie van Universiteit Stellenbosch onderskryf ons, die konvokasiebestuur, hiermee die Gelyke Kanse-veldtog teen Universiteit Stellenbosch se voorgenome taalplan.”

So sê adv. Jan Heunis, die president van Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasie.

Heunis sê die konvokasie stem saam met dié veldtog se besware teen die US-bestuur se voorgestelde konsep-taalbeleid asook die voorstelle vir ‘n toelatings- en taalbeleid wat voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal by die US sal verseker.

Luidens ‘n verklaring het die konvokasie die volgende kommentaar oor die voorgestelde taalbeleid te lewer:

  • Die konvokasie verwerp ’n eensydige siening van Afrikaans as ’n wit(mans)taal of as ’n taal van onderdrukking en uitsluiting. “Ons herinner u daaraan dat Afrikaans ’n meerderheid swart en/of bruin sprekers het. Ten tyde van die 2011 sensus was slegs sowat 2,7 miljoen van die bykans 7 miljoen moedertaalsprekers van Afrikaans wit (StatsSA, 2012: 26).”
  • Die konvokasie sê dat Afrikaans in die apartheidsera nie uitsluitlik “die taal van die onderdrukker” was nie, maar ook ’n taal van verset en protes. “Trouens: Afrikaans is in murg en been ’n bastertaal en een wat op eie bodem gebore is uit verset teen ’n Europese, koloniale, hegemoniese taal. In die gees van laasgenoemde ryke tradisie van verset, lokale geworteldheid en hibriditeit, wil ons dit benadruk dat ons steun vir Afrikaans as volwaardige onderrigtaal aan die US nie strydig is met ons steun vir ’n diverse, inklusiewe en gedekoloniseerde universiteit nie.”
  • Die konvokasie versoek die US om hom aktief te beywer vir opwaartse klassemobiliteit in Afrikaanssprekende gemeenskappe van byvoorbeeld die Boland, die Kaapse Vlakte, die Overberg, die Karoo, en die Noord- en Oos-Kaap. “Die US het in die apartheidsjare én in post-demokratiese Suid-Afrika nagelaat om genoegsame ondersteuning te bied aan Afrikaanssprekende studente wat nie wit is nie. Die voorgestelde taalbeleid sal hierdie geskiedenis van nalatigheid en aktiewe uitsluiting voortsit en sal die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes wesenlik benadeel. Die US behoort eerder ’n historiese, morele en etiese onreg te korrigeer deur met sy taalbeleid, toelatingsbeleid en met die aanstelling van personeellede ’n bydrae te lewer tot die bemagtiging van bruin en swart Afrikaanssprekendes. Ook bruin en swart skole in nabygeleë Afrikaanssprekende gemeenskappe moet op uitgebreide en volgehoue wyse deur die universiteit ondersteun en bemagtig te word.”

Die Gelyke Kanse-veldtog beoog om te verseker dat Afrikaans in die toekoms ‘n volwaardige onderrigtaal aan die US sal bly.

Die Nobelpryswenner JM Coetzee en die bekende Britse oud-diplomaat lord Robin Renwick steun dié veldtog.

Vandag is die laaste geleentheid om kommentaar op die voorgestelde konsep-taalbeleid te lewer. Kommentaar kan gestuur word na taal@sun.ac.za.

You need to be Logged In to leave a comment.