Die Universiteit Stellenbosch het die gerekende mediakundige Herman Wasserman met ingang Januarie 2023 as professor en voorsitter van die instelling se departement joernalistiek aangestel.
Wasserman is tans professor in mediastudie aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy van 2015 tot 2020 as direkteur van die Sentrum vir Film- en Mediastudie gedien het. Hy was voorheen verbonde aan die Rhodes-universiteit sowel as die Britse universiteite Sheffield en Newcastle.
Hy is ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch, waar hy die grade BA (1992), HonsBA (1993), HonsBA (joernalistiek) (1995), MA (1997) en DLitt (2000) verwerf het. Hy het ook van 2002 tot 2007 in die departement joernalistiek klasgegee – eers as Rykie van Reenen-genoot en later as medeprofessor.
Voor sy akademiese loopbaan het hy as verslaggewer vir Media24 gewerk.
Wasserman se werk word internasionaal erken. Hy is ’n genoot en raadslid van die internasionale Kommunikasievereniging, ’n voormalige afdelingshoof van die internasionale Vereniging vir media- en kommunikasienavorsing en ’n verkose lid van die Suid-Afrikaanse Wetenskapakademie.
Op Suid-Afrikaanse bodem het hy die Stalsprys vir kommunikasiekunde en joernalistiek van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.
Daarbenewens is Wasserman hoofredakteur van die vaktydskrifte African Journalism Studies en Annals of the International Communication Association, mederedakteur van Communication Theory en International Communication Gazette, en dien in die eindredaksie van verskeie ander tydskrifte.
Hy is ’n besoekende professor aan die Universiteit van Houston (Verenigde State), die Ludwig-Maximilians-universität (München) en die Tsinghua-universiteit (Beijing).
Sy huidige werk fokus op die media en disinformasie, en hy het al met organisasies soos die Wêreldgesondheidsorganisasie, Unesco, Digital Public Square en Africacheck saamgewerk om kwessies soos die Covid-19-verwante “infodemie”, mediavryheid en ontwikkeling, mediageletterdheid in skole en aanlyn disinformasie te bestudeer.
“Die Universiteit Stellenbosch is verheug om prof. Wasserman by sy alma mater terug te verwelkom,” sê prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. “Ons departement joernalistiek, wat bekend is as een van die beste joernalistiekskole op die vasteland, het ’n lang geskiedenis van onderrig- en navorsingsuitnemendheid. Daarby bied ons toegespitste en praktiese opleiding vir joernaliste wat moet funksioneer in ’n wêreld wat al hoe meer vyandig is jeens objektiewe en billike verslaggewing. Prof. Wasserman is die ideale kandidaat om die leisels oor te neem en die departement ’n uitdagende dog opwindende toekoms binne te lei.”
Prof. Anthony Leysens, dekaan van die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe, die tuiste van die departement joernalistiek, is ewe ingenome met die aanstelling en sê die fakulteit verwelkom dit dat iemand van prof. Wasserman se akademiese statuur op die gebied van mediastudie hom by die departement aansluit. “Ek kan aan niemand met beter kwalifikasies en ervaring dink om die departement te lei en die uitdagings te trotseer én geleenthede aan te gryp van ’n digitale medialandskap wat radikaal anders lyk as waaraan ons ooit gewoond was nie,” sê prof. Leysens. “Prof. Wasserman se werk kry dit reg om verskillende dissiplines in te sluit en byeen te bring om op kwessies soos kultuur, demokrasie, disinformasie en mag in die media van die globale suide te konsentreer. Ek sien daarna uit om met hom saam te werk.”
Prof. Lizette Rabe, die uittredende voorsitter van die departement, sê op haar beurt: “Die departement joernalistiek is opgewonde dat ’n internasionaal gerekende media-akademikus soos prof. Wasserman die instelling ’n algeheel nuwe digitale era sal inneem – veral in ’n tyd wanneer die grondbeginsels van tradisionele joernalistiek, ongeag die platform, en met inbegrip van tegnologieë wat nog ontdek moet word, al hoe belangriker sal word om ons publiek te bedien en te help onderskei tussen gekontroleerde, onafhanklike, betroubare inligting en die disinformasie, vals beriggewing en waninligting wat nou so besonder volop en oortuigend is.”
Wasserman sien daarna uit om hom by die universiteit aan te sluit juis noudat die studie van die media al hoe meer relevant word. “Joernalistiek en mediastudie bied studente ’n geleentheid om loopbaangerigte vaardighede te ontwikkel en terselfdertyd krities na te dink oor die rol van die media in bykans alle aspekte van die politiek, die samelewing en die daaglikse lewe,” sê hy. “Noudat die joernalistiek wêreldwyd krisisse van gesag, vertroue, relevansie en ekonomiese volhoubaarheid beleef, is die uitdaging vir joernalistiekopleiding om maniere te bedink waarop joernalistiek opnuut ’n band met gehore kan bou, met gemeenskappe kan saamwerk, demokratiese deelname kan laat herleef en kritiese burgerskap kan aanmoedig. Dít moet gedoen word in ’n tyd van toenemende internasionale politieke druk en aanslae op die vryheid van uitdrukking, en ’n al hoe groter behoefte aan onafhanklike, betroubare en ingeligte joernalistiek om disinformasie te bestry. “Ek sien daarna uit om hierdie vak-, navorsings- en praktykgebied by die Universiteit Stellenbosch te help groei en te sien floreer.”