Prof. Thuli Madonsela het die gaste se entoesiasme en ondersteuning vir die aanlyn- leerplatform in haar geleentheidstoespraak bevestig deur te sê dat SU Advantage op sosiale geregtigheid in Suid-Afrika sal bou.Foto:


Die Universiteit Stellenbosch se vindingryke aanlyn leer- en onderrigplatform wat daarop gemik is om hoërskoolleerders en hul onderwysers in die Verdere Onderwys- en Opleidingfase (gr. 10, 11 en 12) te ondersteun, is Donderdag 17 Maart bekend gestel.

SU Advantage is van enige slimtoestel toeganklik en kombineer kort, doeltreffende leerinhoud met lewendige, interaktiewe onderrigsteun wat gefokus is op die belangrikste onderwerpe wat leerders moet verstaan om hul begrip te verbeter van sleutellesse wat in die klas aangebied word.

Prof. Thuli Madonsela, bekleër van die Leerstoel vir Sosiale Geregtigheid aan die US se fakulteit regsgeleerdheid, het die gaste se entoesiasme en ondersteuning vir die aanlyn-leerplatform in haar geleentheidtoespraak bevestig deur te sê dat SU Advantage op sosiale geregtigheid in Suid-Afrika sal bou. “SU Advantage kan hoofsaaklik tot sosiale geregtigheid bydra deur toegang tot opvoedkundige inligting en kennis te bevorder wat die gaping sal oorbrug en die isolasie van so baie histories benadeelde kinders en opvoeders sal verminder,” het Madonsela gesê.

“Baie jong leerders kry nou toegang tot onderwys. SU Advantage is een van verskeie boustene om die ekonomiese onderwysongelykhede uit die weg te ruim,” het sy gesê.

Ter ondersteuning van Madonsela se waarneming is die platform se onderwysondersteuning nie net maklik toeganklik nie, maar fokus dit ook op 11 skoolvakke. Hierdie vakke word tans in Engels aangebied. Dit bestaan uit videolesse in ’n kort formaat, onderwerpgebaseerde assesserings en vraagsessies, gekonsolideerde werkboeke, memo-gebaseerde rekonsiliasie en in-diepte lewende lesse.

“Die US het besluit om hierdie toeganklike aanlyn-oplossing te skep teen die agtergrond van die huidige uitdagings van die land se onderwysstelsel en die ekonomiese impak wat Covid-19 op baie gesinne gehad het,” het prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, gesê. “Ons Visie 2040 lui onder meer dat ons inklusief en innoverend is en kennis in diens van die samelewing bevorder. ’n Inisiatief soos SU Advantage is in perfekte ooreenstemming met ons visie en sal ’n positiewe impak hê in die gemeenskappe wat ons dien.

“Onderwysers verkeer onder toenemende druk om slaagkoerse en leerderprestasie te verhoog. Maar die realiteit is dat hulpbronne beperk is en klaskamers eenvoudig te vol is om in al die behoeftes van leerders te voorsien,” sê dr. Benedict Khoboli, direkteur van die US se Sentrum vir Pedagogie (Suncep).

“Ons doelwit is nie om tradisionele hoofstroomonderwys te vervang nie en SU Advantage is dus nie ’n aanlyn- skool nie,” voeg Khoboli by. “Dit het eerder ten doel om dít waaraan leerders in klaskamers blootgestel word, aan te vul en te versterk.”

Die inhoud en hulpbronne vir die platform is in ooreenstemming met algemeen aanvaarde pedagogiese beginsels ontwikkel, verduidelik Khoboli. “Alle hulpbronne wat op die platform beskikbaar is, is deur ervare opvoeders geskep – onderwysers wat in hul loopbane uitgeblink het. Eenvoudig gestel, die leermateriaal wat op SU Advantage beskikbaar is, is van hoë gehalte en so ontwerp dat dit holistiese begrip by leerders verseker.

“Gerugsteun deur Suncep se jare lange ondervinding met leerderverbeteringsprogramme in die VOO-fase, word SU Advantage nou in die ope mark beskikbaar gestel en kan dit gebruik word deur enige leerder wat op die platform inteken.

“Covid-19 het die geleentheid gebring om die program te verfyn en uit te brei en aan te pas om van toepassing te wees vir ’n massamark,” verduidelik dr. Khoboli.

“SU Advantage is toekomsgerig en is nie bloot ’n korttermyn-oplossing vir leerders nie. Inteendeel, dit is geskep om leerders te help om beter op skool te presteer, maar ook in die lewe daarna en in hul toekomstige beroepe. Die einddoel is opwaartse ekonomiese mobiliteit.

“Ons het dit ons mandaat gemaak om tersiêre opvoeding ’n realiteit vir meer Suid-Afrikaanse jeugdiges te maak. Deur grondslagsteun aan hoërskoolleerders in die senior fases van hul onderrigreis te bied kan SU Advantage hulle help om by tersiêre onderwysinstellings aanvaar te word,” voeg Khoboli by.

SU Advantage bied trouens ’n reeks loopbaanvoorligtingsinstrumente wat leerders help met ’n algemene oorsig van wat presies van hulle vereis word om hul drome na te jaag. Dit sluit aanlyn-aanlegtoetse in, wat naatloos met die US se beskikbare kursusse geïntegreer is sodat leerders ’n duidelike idee kan kry van die studievelde wat die beste by hul persoonlikheid en skoolprestasie pas.

Ouers en leerders kan registreer om SU Advantage te gebruik deur www.suadvantage.co.za te besoek, terwyl die sakegemeenskap en private skenkers ook uitgenooi word om met Suncep saam te werk om die gemeenskap van VOO-leerders van skole met beperkte hulpbronne toegang tot SU Advantage te bied en sodoende opvoedkundige ondersteuning in Suid-Afrika te demokratiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.