Ten minste die goedgekeurde minimum-taalaanbod in Afrikaans en in Engels sal in 2016 aan die Universiteit Stellenbosch (US) geld.

So lui ‘n verklaring deur die US se uitvoerende komitee van die raad UK(R) wat vrygestel is ná die samestelling van ‘n mosie tydens ‘n buitengewone vergadering wat Sondag 15 November plaasgevind het.

“Die Afrikaanse aanbod sal nie afgewater word nie. Indien veranderinge aan die taalbeleid in die vooruitsig gestel word, sal die proses volgens statutêre voorskrifte geskied.”

Die vergadering is bygewoon deur raadsvoorsitter George Steyn, prof. PW van der Walt, prof. Prieur du Plessis, dr. George du Toit, rektor en visekanselier prof. Wim de Villier, prof. Leopoldt van Huyssteen (bedryfshoof) en prof. Hansie Knoetze (dekaan van die fakulteit ingenieurswese).

Steyn het verlede week in kommunikasie met raadslede aangedui dat ‘n buitengewone vergadering van die UK(R) so spoedig moontlik belê sou word. 

“Die UK(R) het groot begrip dat taal ‘n uitsluitingsmeganisme kan wees soos wat in die RBS-verklaring uiteengesit word.

“Aangesien die minimum-onderrigaanbod in Afrikaans en Engels slegs na behoorlike konsultasie deur ‘n raadsbesluit verander kan word, sal die taalspesifikasies soos reeds deur die Senaat en die Raad goedgekeur (en in die jaarboeke opgeneem) in 2016 geïmplementeer word,” het Steyn, ná afloop van die UK(R)-vergadering gesê.

Die UK(R) besluit soos volg:

1. Die huidige bestuursdokument verteenwoordig die US-bestuur se perspektief en is die sintese van hulle ondervinding van gebeure asook konsultasies met studentegroepe. Die dokument is ’n besprekings- of gespreksdokument en nie ’n beleidsdokument nie.

2. Die US Raad asook Senaat het die taalaanbod en die implementering daarvan vir 2016 reeds goedgekeur.  Hierdie besluite oor die minimum-aanbod in elke taal (Afrikaans en Engels) bly onveranderd.

3. Enige moontlike toekomstige veranderinge aan die Taalbeleid/Taalplan moet volgens statutêre voorskrifte geskied. Dit sluit wye konsultasie met alle rolspelers in. Die gekonsolideerde dokument wat hieruit voortvloei, dien by die Institusionele Forum en die Senaat (via onderskeie fakulteitsrade) vir hulle onderskeie insette. Soos per die Statuut dien die finale dokument by die Universiteitsraad vir bespreking, aanpassing of bekragtiging.

You need to be Logged In to leave a comment.