Die Universiteit Stellenbosch (US) betreur die skielike sterfte van die universiteitsraadsvoorsitter Ainsley Moos (45) tydens ’n operasie in ’n kliniek in Stellenbosch.
Die US sê sy sterfte is ’n geweldige skok vir die universiteitsgemeenskap.
Moos is Dinsdag (31 Januarie) onder narkose tydens ’n klein mondoperasie dood.
“Die universiteit het nie net ’n uiters knap raadsvoorsitter verloor nie, maar ’n besonderse gewaardeerde en lojale vriend van die universiteit,” het prof. Wim de Villiers, die rektor en visekanselier van die US gesê.
De Villiers sê dit is uiteraard ’n geweldige skok vir die universiteitsgemeenskap en dit kom – om die minste te sê – in ’n tyd wat die universiteit swaar op hom geleun het vir sy bestuurskundigheid én sy bewese ervaring as kommunikasiespesialis, maar ook wat betref sy vaardighede as bestuurder van belanghebberverhoudinge in die korporatiewe wêreld.
“Op ’n persoonlike vlak was sy ondersteuning aan my inspirerend. Matieland het inderdaad ’n groot vriend verloor. In die besonder dink ons in hierdie hartseer tyd aan sy familie en geliefdes,” sê prof. De Villiers.
“Ainsley was passievol oor die Universiteit Stellenbosch en oor die rol wat die universiteit, sy personeel en studente nasionaal, maar ook op die globale verhoog, moet speel en hy het hard gewerk om hierdie visie te deel,” het dr. Nicky Newton-King, ondervoorsitter van die US-raad, gesê. “Sy nederigheid en kalm leierskap was die raad tot groot voordeel namate dit die afgelope jaar ’n reeks ernstige uitdagings hanteer het. Die universiteit was baie gelukkig om Ainsley op hierdie kritieke tyd in sy geskiedenis onder sy leiers te kon reken.”
Moos was ’n lid van die uitvoerende span van die finansiële dienstemaatskappy African Rainbow Capital (ARC). Hy het reeds sedert 2014 in die raad gedien en was onder meer voorsitter van die vergoedingskomitee van die raad en lid van die uitvoerende komitee sowel as die menslike hulpbronnekomitee. Hy is in 2018 as ondervoorsitter aangewys en het die voorsitterstoel op 3 Desember 2021 ingeneem.
Moos is ’n US-alumnus wat die grade BA, BPhil (joernalistiek) en MBA aan die universiteit verwerf het. Hy het ook leierskapsprogramme by Gibs, Wits en Harvard voltooi.
Die US-raad het ? toesighoudende verantwoordelikheid vir akademiese en bedryfsake, sowel as institusionele beleid en strategie by die instelling. ?