Universiteit Stellenbosch (US) oorweeg, afhangende van omstandighede, altyd om die SAPD vir bystand te versoek.
US-woordvoerder Martin Viljoen sê daar kan veral nie ‘n week voor die begin van eksamens ontwrigtings toelaat nie.
“Hierdie week is ‘n uiters belangrike periode op die akademiese kalender waar etlike studente onder groot druk werk om voor te berei vir die eksamens wat Dinsdag begin.
“Daar kan dus geen ruimte gelaat word vir enige afleidings of potensiële ontwrigtings nie.“
Viljoen sê die SAPD se bystand word veral oorweeg tydens onwettige byeenkomste soos die betoging wat Maandag 9 Mei op die Rooiplein plaasgevind het.
‘n Paar studente het tydens ‘n betoging teen die afdanking van 150 uitgekotrakteerde werkers ‘n struktuur op die Rooiplein opgerig.
“Na gelang van omstandighede is dit altyd ‘n oorweging vir die universiteit om die SAPD vir bystand te versoek – soveel te meer wat betref onwettige byeenkomste.
“In hierdie geval het die betogers onwettig betoog, sonder toestemming ‘n struktuur opgerig en nie gereageer op versoeke om dit te verwyder nie.
“Die SAPD se ondersteuning is ingeroep om die situasie te help bestuur, sou dit hand uitruk.”
Viljoen sê die prosedure wat gevolg word om ‘n stokkie te steek voor onwettige betogings, begin met ‘n vriendelike versoek om die betoging te staak.
“Indien hulle nie gehoor gee nie, word hulle formeel en skriftelik ingelig dat hulle optrede gestaak moet word en indien dit met ? onwettige struktuur gepaard gaan, dit verwyder moet word.
“Indien hulle nie gehoor gee nie, kan die eienaar van die eiendom oorgaan om dit self te verwyder, soos wat Maandag gedoen is.”
Die universiteit besluit nog of daar opgetree gaan word teen die studente wat aan die onwettige betoging deelgeneem het.