“Die Universiteit Stellenbosch het die rassis geskors,” het Mkuseli Kaduka, pa van Babalo Ndwayana (19) op Facebook geplaas nadat die universiteit die permanente skorsing van Theuns du Toit (20) Vrydagaand aangekondig het.
Dit beteken Du Toit mag glad nie sy studie by die US voortsit nie, en dus nie terugkeer nie.
Du Toit se permanente skorsing kom nadat hy in Mei Ndwayana se koshuiskamer in Huis Marais betree en op sy besittings geürineer het. Die voorval is op kamera vasgevang en is landwyd versprei. Verskeie organisasies, insluitend die US se studenteraad, het die onmiddellike permanente skorsing van Du Toit geëis.
Die US het egter Du Toit in Mei tydelik geskors en sy Senior Dissiplinêre Komitee (SDK) versoek om die saak te ondersoek en die nodige bevindings te maak. Die SDK het ’n paneel saamgestel wat volgens die US uit “betroubare” en “kundige lede” bestaan het.
Die name van die paneellede was nie gedurende die ondersoek aan die media bekend nie, maar US-woordvoerder Martin Viljoen het wel aan Eikestadnuus gesê dat die paneel “onafhanklik” en “objektief” sal optree.
’n Tugverhoor is op 22 en 23 Junie gehou waar Du Toit se weergawe van die insident aangehoor is. Ndwayana het die verrigtinge geboikot omdat die SDK-paneel volgens hom en sy prokureurs “nie objektief” is nie.
Die US se mediaverklaring lui dat die SDK-paneel onder leiding van prof. Sonia Human, Du Toit skuldig bevind aan die “oortreding van verskeie klousules van sy dissiplinêre kode vir studente en koshuisreëls”.
In die SDK se uitspraak van 23 bladsye lank is Du Toit skuldig gevind aan ongemagtigde toegang tot Ndwayana se kamer, die urinering op Ndwayana se studeertafel, beskadiging van sy besittings en die manier hoe hy homself gedra het toe hy na bewering vir Ndwayana gesê het “dit is ’n witseun ding”, om sy gedrag te regverdig.
Brendon Hess, feite-leier / bewyse-leier vir die US, het ná aanleiding van die paneel se bevindings aangevoer Du Toit moet die swaarste straf kry vir sy gedrag, en het onmiddellike permanente skorsing aanbeveel. Volgens die uitspraak het Hess ook aangevoer Du Toit was “inter alia, rassisties, diskriminerend, gewelddadig, uiters vernederend, en of intimiderend wat ’n nadelige uitwerking op beide Ndwayana en die US gehad het.”
Maar, sê die menseregteorganisasie Stellenbosch Staan Op (STOP), die uitspraak was onredelik en dat alle aspekte van die saak nie oorweeg is nie.
“Die bewerings dat Babalo nie vir Theuns geken het nie is onwaar. Volgens inligting was Theuns nie net vriende met Babalo se kamermaat nie, maar het hy ’n paar keer per dag in Babalo se kamer gekom. Hulle het goed oor die weg gekom, en het vriendelike gesprekke met mekaar gehad. Hulle het ’n hele paar keer vir Babalo saamgenooi wanneer hulle iets gaan doen het of uitgegaan het. Theuns en Babalo het dus ook sosiaal verkeer en daar was nooit enige probleme nie. Hy het ook per geleentheid vir Babalo van sy klere geleen om te dra wanneer hulle uitgegaan het,” lui STOP se verklaring.
STOP bevraagteken ook hoe die tugkomitee dié bevinding kon maak, terwyl daar ’n ooggetuie was wat in die stadium dat die woorde glo geuiter is, reg langs Theuns en Babalo gestaan het. “Die ooggetuie het in die verhoor getuig dat hy nie vir Theuns daardie woorde hoor sê het nie. Die paneel meld slegs dat die ooggetuie nie lekker kon hoor nie.
“Dit is uiters belangrik om te verstaan wat die impak is van Babalo se onbereidwilligheid om in die tugverhoor te getuig. Die paneel en Theuns se prokureur kon dus nooit Babalo se weergawe van die voorval toets nie. Die enigste getuienis wat namens Babalo aan die paneel voorgelê was, was sy informele verklarings oor die insident. Dit is nooit eens onder eed afgelê nie.”
STOP sê in die afwesigheid van enige aanvaarbare getuienis deur Babalo, kon die betrokke ooggetuie se getuienis slegs tot die voordeel van Theuns se saak strek, selfs al sou die paneel ook met sekerheid kon of wou bevind dat die betrokke ooggetuie nie kon hoor wat gesê is nie.
Kaduka het gesê hy verwelkom die skorsing van Du Toit, maar dat geregtigheid nog nie geskied het nie. “Ons verwelkom die permanente skorsing van Du Toit. Maar ons sal slegs tevrede wees as hy [Du Toit] agter tralies is, daarom gaan ons nou ons aandag op die strafregtelike saak fokus.”
William Fullard, Du Toit se regsverteenwoordiger, het gesê Du Toit gaan teen die saak appelleer. Volgens die US het Du Toit vyf werksdae om teen die uitspraak te appelleer. Fullard het ook gesê indien die appèl nie slaag nie, hulle ’n hersieningsaansoek by die hooggeregshof in Kaapstad sal indien.