Die Universiteit Stellenbosch (US) kan hom in die breë vakgebiede lewenswetenskappe en geneeskunde, lettere en geesteswetenskappe, sosiale wetenskappe en bestuur, ingenieurswese en tegnologie en natuurwetenskappe as een van die voorste hoëronderwysinrigtings in die wêreld beskou.
Dít is volgens die 2023 Quacquarelli Symonds- (QS-) wêreldranglys vir universiteite volgens vakgebied, wat verlede week vrygestel is.
Altesaam 1 597 instellings is vir die 2023-ranglys in 54 vakke in bogenoemde breë vakgebiede beoordeel. Meer as 16,4 miljoen unieke artikels, wat tussen 2016 en 2020 verskyn het en nagenoeg 117,8 miljoen sitasies van 2016 tot 2021 opgelewer het, is ontleed.
Die US het sy plek in vier van hierdie vakgebiede verbeter. Dit het ’n top-250-plek in lewenswetenskappe en geneeskunde behaal en die US verskyn nou in die top-350 in lettere en geesteswetenskappe, in die top-450 in ingenieurswese en tegnologie, in die top-400 in sosiale wetenskappe en bestuur en in die top-500 in natuurwetenskappe.
Voorloper in SA
Wat spesifieke vakkategorieë betref, het die US sy wêreldwye plek in omgewingswetenskappe en geneeskunde verbeter deur na die top-250 op te skuif. Dit is die voorste universiteit in Suid-Afrika in landbou en bosbou (74ste in die wêreld) en teologie, Godgeleerdheid en godsdienste studies, en in ontwikkelingstudies (albei in die top-100), chemiese ingenieurswese (top-300) en meganiese, lugvaartkundige en vervaardigingsingenieurswese (top-350).
Die US is die tweede agtereenvolgende jaar eerste in Suid-Afrika in landbou en bosbou en teologie, Godsgeleerdheid en godsdienstige studies, en tweede in opvoedkunde (top-350), aptekerswese en farmakologie (top-300), sake- en bestuurstudies (top-500), sielkunde (top-330), biologiese wetenskappe (top-350) en elektriese en elektroniese ingenieurswese (top-450). Die US beklee ook die tweede plek in Engelse taal en literatuur (top-250) nadat dit verlede jaar derde was. Dit verskyn ook in die top-330 in rekeningkunde en finansies.
“In ooreenstemming met ons visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees, wil ons ons ook wêreldwyd in hoër onderwys onderskei, dus is ons baie bly dat ons reputasie in landbou en bosbou en teologie, Godsgeleerdheid en godsdienstige studies nommer een op die ranglys is. As die enigste universiteit in Suid-Afrika wat wingerdbou en wynkunde danksy ons unieke wynstreek aanbied, is ons veral trots daarop dat hierdie eer landbou te beurt geval het,” sê prof. Hester Klopper, viserektor vir strategie, globale en korporatiewe sake.
Aanwysers
Die QS gebruik vyf aanwysers vir die ranglys, naamlik akademiese reputasie op grond van persepsies, werknemer-reputasie, navorsingsitasies per artikel, H-indeks en die bygevoegde internasionale navorsingsnetwerk (IRN). Die eerste twee is gegrond op wêreldwye opnames onder akademici en werkgewers wat gebruik word om ’n instelling se internasionale reputasie in elke vak te bepaal.
Navorsingsitasies per artikel meet die gemiddelde aantal sitasies wat per publikasie behaal is en is ’n skatting van die impak en gehalte van die wetenskaplike werk wat deur universiteite gedoen word.
Die H-indeks bepaal die stabiliteit van die impak en gehalte van die werk wat deur ’n instelling se akademici gepubliseer word.
Die IRN is ’n maatstaf van ’n universiteit se doeltreffendheid om stabiele navorsingsmedewerkings in elk van die vyf breë vakgebiede te vestig.
Die US het die afgelope paar jaar bestendig onder die beste tersiêre inrigtings wêreldwyd op die volgende ranglyste verskyn: QS-wêreldranglys volgens vakgebied, Times Higher Eduction se wêreldranglys vir vakke en die ShanghaiRankings-wêreldranglys vir akademiese vakke. Hierdie ranglyste gebruik verskillende metodologieë en aanwysers om universiteite se plek op hul ranglys te bepaal.