’n Saak van verkragting word deur die Stellenbosch-polisie ondersoek nadat ’n 19-jarige vrouestudent van die Universiteit Stellenbosch na bewering Dinsdag 17 Mei by een van die universiteit se manskoshuise verkrag is.

Die polisie het die voorval bevestig en gesê die slagoffer is glo deur ’n 19-jarige manlike student verkrag.

Die voorval het glo omstreeks 22:00 by Majuba-manskoshuis plaasgevind toe die slagoffer die koshuis besoek het.

Sy het die saak die volgende oggend by die polisie aangemeld.

Die US-bestuur het sy groot ontsteltenis oor die beweerde verkragting op die Stellenbosch-kampus in ’n verklaring uitgespreek.

“Die rektor en bestuur van die universiteit veroordeel alle vorms van misdaad en enige skending van menseregte, waaronder geslagsgebaseerde geweld, ten sterkste,” het Martin Viljoen, ’n woordvoerder van die US, gesê.

“Die universiteit het onmiddellik daad by die woord gevoeg wat ondersteuning aan die slagoffer betref, sowel as ten opsigte van die ondersoek en tugproses. Ons het hoegenaamd geen plek in ons samelewing of op ons kampusse vir enige dade van geweld nie. Ons hart gaan uit na die slagoffer van die beweerde verkragting.”

Die universiteit prys die spoedige optrede deur die polisie.

Die beweerde oortreder is intussen, in ooreenstemming met die US se gevestigde prosedures en protokol, uit sy koshuis geskors, hangende verdere interne en strafregtelike ondersoeke deur die verskillende wetstoepassingsowerhede.

“Die slagoffer is tans veilig en ontvang versorging,” het Viljoen bygevoeg.

“Die polisie het haar na die Stellenbosch Provinsiale Hospitaal vergesel, waar sy ondersoek is en ook die nodige medikasie, sorg en primêre berading ontvang het.”

You need to be Logged In to leave a comment.