Die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir voorgraadse beurse en lenings (SVBL) het die sluitingsdatum vir 2023- US-finansieringsaansoeke tot 30 November 2022 verleng sodat meer studente om finansiële ondersteuning aansoek kan doen.
Aansoeke vir US-finansiering het op 1 Julie geopen en sal nou op 30 November sluit.
“Ons gee meer studente – veral dié wat as die “vermiste middelstes” (missing middle) bekend staan (bruto huishoudelike inkomste tussen R350 000 en R600 000 per jaar) – die geleentheid om vir finansiering aansoek te doen deur die sluitingsdatum te verleng.”
US-finansiering
’n Beurs kan ’n universiteitsopleiding bekostigbaar maak. Huidige en voornemende voorgraadse studente kwalifiseer vir US- finansiële ondersteuning op grond van twee hoofkriteria: finansiële behoefte en akademiese meriete. Studente wat finansiële steun ontvang, kry dit in direkte verhouding tot die omvang van hul finansiële behoefte, ongeag ras en geslag. Finansiële behoefte word bepaal deur die inligting wat die student indien rakende sy of haar finansiële omstandighede en word deur ’n derde party nagegaan.
E-aansoek-proses
Die US het ’n nuwe aanlyn aansoekproses, en studentetoegang tot die nuwe veilige, eksterne webwerf word verkry deur hul unieke agt-syfer- US# (studentenommer) en -wagwoord te gebruik. SVBL beveel aan dat studente eers die hoe-om-aansoek-te-doen-aanwysings deeglik deur te lees en die vereiste ondersteuningsdokumente gereed te kry voordat hulle deur die my.sun-portaal aansoek doen. Die aanlyn vorm neem sowat twintig minute om te voltooi.
Alle voornemende en huidige voorgraadse studente word aangemoedig om aansoek of heraansoek te doen. Op hierdie manier word hulle op die SVBL-databasis vir 2023-finansieringstoekennings geregistreer en is hulle inligting dus reeds daar indien hul finansiële omstandighede onverwags verander.
Vir enige navrae rakende finansieringsaansoeke vra die US dat studente asseblief die US se kliëntediensnommer by 021 808 9111 skakel of die webwerf by https://finaid.sun.ac.za/ te besoek.