Die Universiteit Stellenbosch sê hy verwelkom die hooggeregshof se uitspraak dat die senaat (en sy komitees) nie die taalbeleid oortree het soos beweer is nie, en dat die verklarende versoek – wat ’n bevel aangevra het dat die senaatsbesluit en veranderings aan die fakulteite se taalimplementeringsplanne as ongrondwetlik, onregmatig en ’n skending van sy 2016-taalbeleid verklaar word – van die hand gewys word.
Die DA en Studenteplein se hofaansoek teen die US, die US-raad en die US-senaat (“die respondente”) is op Maandag 15 Augustus in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.
Regter Judy Cloete se uitspraak bevestig die US se deurlopende standpunt dat daar geen afwyking van die 2016-taalbeleid was nie, maar wel gekonsulteerde en goedgekeurde veranderings aan sekere taalreëlings van sekere fakulteite. Die US se 2016-taalbeleid het volledig hiervoor voorsiening gemaak.
Maar, sê die LP dr. Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, die DA oorweeg nou verdere stappe teen die US ter beskerming van moedertaalonderrig.
“Die DA is reeds besig om verdere opsies in hierdie saak te oorweeg. Die hofsaak spruit uit die selferkende feit dat die US nie sy eie taalbeleid ‘streng’ nagekom het in die besluit om weg te doen met Afrikaanse leermateriaal nie. Ten spyte hiervan het die hof die US kwytgeskeld op ’n heeltemal afsonderlike punt, wat nooit eens voor die hof gedien het nie. As die voorste kampvegter in die Parlement vir taalregte soos in die Grondwet vervat, werk die DA onverpoosd voort ter beskerming ook van Afrikaanse moedertaalonderrig in Stellenbosch, die laaste universiteit in die suide van die land met die vermoë om tersiêre onderrig in Afrikaans aan te bied.”
Die US-woorvoerder Martin Viljoen sê die uitspraak dien as bevestiging dat die US tydens die Covid-19-pandemie, toe verskeie sektore – ook universiteite – baie vinnig nuwe werkswyses moes vind en noodmaatreëls moes tref, in goeie trou opgetree het. “Die uitdaging en impak van die reuse- akademiese skuif om in Maart 2020 … alle kursusse aanlyn aan te bied, kan nie genoeg beklemtoon word nie.
“Aangesien ’n groot hoeveelheid bykomende aanlyn materiaal ontwikkel moes word met die byna onmiddellike en volledige skuif van residensiële na aanlyn onderrig , het die werkslading buitengewone druk op dosente geplaas.”
“Dit sou bykans onmoontlik wees om van dosente te verwag om in die betrokke omstandighede steeds alle nuwe leermateriaal in Afrikaans en Engels beskikbaar te stel,” sê Viljoen.
Hy sê leermateriaal wat reeds in Afrikaans bestaan het, is egter steeds aan studente verskaf. Etlike Engelse podsendings is, volgens hom, ook in Afrikaans vertaal en assesserings is in Afrikaans en Engels beskikbaar en dosente is ten sterkste aanbeveel om die taalsentrum se dienste te benut.
“Die US se doelwit is nou, nadat alle Covid-19-inperkingsreëls opgehef is en alle studente en personeel uiteindelik na kampusse teruggekeer het vir volledige kontaklesings, tutoriale en onderrig in die lesinglokale, om te verseker dat ons ons werksaamhede en aktiwiteite op ons onderskeie kampusse so gou moontlik hervat.” Hy sê die US se doelwit is om ’n goeie en produktiewe oorgang te bewerkstellig van dít waaraan studente en personeel noodgedwonge in 2020 en 2021 oor ’n afstand en aanlyn gewoond moes raak, en dít wat nou weer vir die Universiteit as ’n residensiële universiteit van gehalte moontlik en belangrik is,” het Viljoen bygevoeg.
Prof. Deresh Ramjugernath, adjunk-visekanselier vir leer en onderrig, sê: “Met die verwydering van die streng maatreëls vir fisieke afstandhouding en ander regulasies wat met Covid-19 verband gehou het, en noudat ons na volle aangesig-tot-aangesig- leer en -onderrig in die klaskamer kan terugkeer, fokus die universiteit daarop om te verseker dat die 2021-taalbeleid ten volle ingevolge die implementeringsplanne van fakulteite en verantwoordelikheidsentrums toegepas word. Ons beweeg deur die taalbeleid saam vorentoe in die bevordering van meertaligheid binne ons instelling.”
Dr. Leon Schreiber, DA-LP, sê egter die DA sien ook uit na die Menseregtekommissie (MRK) se bevindings oor die DA se klagtes van verlede jaar nadat studente in koshuise en op kampus na bewering “verbied” is om Afrikaans te praat.
“Ons sal nie rus totdat geregtigheid in hierdie sake geskied nie.”