Drie opwindende geleenthede op die program is die Droomloop in Victoriastraat op Donderdagaand 3 Februarie (20:00-22:15), die Sosiale Impak-oggend op Donderdag 10 Februarie en die Vensters-straatteater op Saterdag 12 Februarie (09:00-22:00). Bo is studente tydens die 2021 Droomloop in Victoriastraat.Foto: Argief/Francois Lombard


Die Universiteit Stellenbosch verwelkom vandeesweek meer as 5 000 eerstejaar­studente op sy kampusse met die aanvang van sy ampte­like Verwelkomingsprogram, wat van Maandag 31 Januarie tot Saterdag 12 Februarie sal duur.

Die amptelike verwelkomingsgeleentheid vind op Donderdag 3 Februarie by die Danie Craven-stadion plaas. Om aan vlak 1-maatreëls teen Covid-19 te voldoen, sal die tradisionele massageleentheid met twee kleiner plegtighede vervang word, elk met hoogstens 2 000 gaste.

In teenstelling met verlede jaar se virtuele verwelkomingsplegtigheid weens die destydse pandemiebeperkings, sal nuwelingstudente vanjaar persoonlik deur die rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, en die voorsitter van die Studenteraad, Viwe Kobokana, verwelkom word.

By die geleentheid sal nuwelinge met die universiteitsbestuur, studenteleiers, huiskomiteelede en mede-eerstejaars kennis maak.

Die eerste plegtigheid, wat om 14:45 plaasvind, is vir nuwelinge uit die studenteklusters Rubix, Validus en amaMaties, en die plegtigheid om 17:00 vir studente van Wimbledon, VicMeyr, Victoria, Tygerberg en Huis Neethling.

’n Video-opname van die verwelkomingsgeleentheid sal Vrydag 4 Februarie op die US se webtuiste beskikbaar wees.

Die verwelkomingsgeleentheid is die amptelike aanvang van die US se verwelkomingsprogram, wat uit ’n omvattende en ten volle geïntegreerde program van verwelkomingsaktiwiteite gedurende die eerste twee weke van Februarie bestaan. Nuwelinge word aan alle aspekte van die kampus- en studentelewe bekend gestel, waaronder akademiese programme en die wye verskeidenheid studentesteundienste tot hul beskikking.

“Die program bestaan uit betekenisvolle en besondere geleenthede sowel as inligting- en oriënteringsessies sodat die nuwe Maties hul opvoedkundige reis met vrymoedigheid kan begin,” sê Pieter Kloppers, direkteur van die Sentrum vir Studentegemeenskappe.

Drie verdere opwindende geleenthede op die program is die Droomloop in Victoriastraat op Donderdagaand 3 Februarie (20:00-22:15), die Sosiale Impak-oggend op Donderdag 10 Februarie en die Vensters-straatteater op Saterdag 12 Februarie (09:00-22:00).

Vierde aflewering van ikoniese Droomloop

Studente sal ná die amptelike verwelkomingsgeleentheid in groepe van 100 aan die Droomloop in Victoriastraat deelneem.

Vir hierdie inisiatief, wat in 2019 van stapel gestuur is, loop studente onderdeur ’n banier wat oor Victoriastraat hang, wat die amptelike begin van hul akademiese reis by die US simboliseer.

Studente kan ook handgeskrewe kaartjies met hul drome op teen een van die bome langs Victoriastraat opsit.

“Die simboliek van die Droomloop, as die oomblik wanneer jy met jou akademiese reis begin en jou drome begin verwesenlik, maak dit ’n ikoniese geleentheid vir nuwelinge,” sê Kloppers. “Wanneer hulle ook al weer by daardie plek verbyloop, sal dit hulle aan hul drome herinner.”

Sosiale Impak-oggend

Matie Gemeenskapsdiens (MGD), tesame met die Afdeling Sosiale Impak, en die onderskeie koshuise en privaatwyke (PDO’s) bied op Donderdag 10 Februarie (09:00-12:00) die jaarlikse Sosiale Impakoggend aan.

Die Sosiale Impak-oggend gee nuwelinge ’n kykie na hoe die US saamwerk met verskillende vennote in die openbare en private sektore sowel as gemeenskapsvennote om werklike sosiale uitdagings die hoof te bied en die samelewing ten goede te verander.

Die verskillende sosiale impak-inisiatiewe van die koshuise en PSO’s is belyn met die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan en Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte – veral wat betref voedselsekuriteit, onderwys, misdaadvoorkoming, gesondheid, indiensneming en die omgewing.

Vensters 2022, ’n twee uur lange kaartjiekonsert

Nóg ’n hoogtepunt is die Vensters-straatteater, wat op 12 Februarie (09:00-22:00) by die Coetzenburgsentrum binnenshuis aangebied sal word.

Nuwelinge sal in kleurryke twee uur lange musiek- en danskonserte deur die loop van die dag op ’n roterende basis optree.

Ouers en ander gaste kan die konserte bywoon.

Die geleentheid, waarvoor toegangskaartjies uitgereik sal word, sal aan alle Covid-19-protokol voldoen.

Nuwelinge begin op 14 Februarie klas draf, wanneer die US se akademiese jaar 2022 ook amptelik begin.

You need to be Logged In to leave a comment.