US vir 3 tale vereer

Die Universiteit Stellenbosch-museum het pas die 2022- Nasionale PanSALB (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad) se toekenning vir meertaligheid ontvang vir die gebruik en bevordering van meertaligheid by ’n hoëronderwysinrigting.


Die Universiteit Stellenbosch-museum het pas die 2022- Nasionale PanSALB (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad) se toekenning vir meertaligheid ontvang vir die gebruik en bevordering van meertaligheid by ’n hoëronderwysinrigting.

Die US-museum het hierdie gesogte toekenning op 15 Junie by ’n PanSALB-seremonie in Johannesburg ontvang.

Die US is saam met twee ander universiteite, die Universiteit van Venda en Unisa, in die onderwys-kategorie vir die eerbewys benoem.

Die eerbewys erken onder meer die US-museum se verbintenis daartoe om sy programme so wyd as moontlik te bemark om in sy uiteenlopende gehore se behoeftes te voorsien en om die museum inklusief te maak. Die museum verskaf al sy bemarkingskommunikasie-materiaal in Engels, Afrikaans en Xhosa.

Die PanSALB-toekenning sal nou saam met die museum se ander twee eerbewyse van 2018 – die ministeriële kultuursaketoekenning vir “Beste museum wat sosiale insluiting bevorder” en die Volhoubareontwikkelingstoeken­ning van die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit – pryk.

Bongani Mgijima, die direkteur van die US-museum, is opgewonde en verheug oor hierdie eerbewys vir bevordering van meertaligheid. Volgens hom het die museum jare gelede besluit om programme in ooreenstemming met die universiteit se Visie 2040 aan te bied.

“Hierdie eerbewys getuig van die toewyding van die museum om ’n inklusiewe universiteitsgemeenskap te bou. Al ons museumprogramme is ontwerp met hierdie doel in gedagte,” het Mgijima gesê.

Met die museum se bevordering van meertaligheid en sosiale insluiting, was die instelling ’n baie goeie kandidaat vir die PanSALB-eerbewys vir individue, instellings of organisasies wat uitgeblink het in “die bevordering, beskerming en bewaring van alle amptelike tale, insluitend Khoi-, Nama- en San-tale, asook Suid-Afrikaanse Gebaretaal”.

Buiten die onderwys-kategorie was die ander kategorieë taal en letterkunde, taalaktivistoekenning, media, jeug, regering of openbare sektor, tegnologie en handel, musiek, vertaling en tolking en die voorsitter se eerbewyse vir lewenslange prestasies.

Buiten die US-museum se meertalige bemarkingsmateriaal bied dit ook ander programme aan, wat sosiale insluiting bevorder. Dit sluit die Afrika-dromslaan-Dinsdae in om toeriste en plaaslike inwoners in staat te stel om te leer hoe om die Afrika-drom te speel.

Die museum bied ook aktiewe openbare opvoedkundige programme aan om uiteenlopende gehore te lok. Die Toegang tot Visuele Kunste-program is die museum se toonaangewende program vir sosiale impak, en is op skoolleerders gemik. Leerders van minderbevoorregte skole word geborg om die leerders se toegang tot die universiteitsmuseum te vergroot en om leerders aan kuns bekend te stel.

Woensdae se kuns-wandelings (Wednesday Art Walkabout) is ’n inisiatief van die universiteitsmuseum om mense op te voed en sy kunsversamelings met die publiek te deel, terwyl die Oop gesprekke-reeks (Just Conversations) op onder meer sleutelkwessies soos redevoerende gesprekke oor museums, erfenis en sosiale geregtigheid fokus.

Laaste, maar nie die minste nie, fokus die Ubuntu-dialoë-projek, ’n samewerkingsprojek tussen die US-museum en die Universiteit van Michigan-staat, op transnasionale dialoog en gesprekke tussen studente en fakulteits- en gemeenskapsvennote in Suid-Afrika en die Verenigde State.

Volgens Mgijima word al die bemarkingsmateriaal in drie van die nasionale tale versprei.

“Die prestasie het nie ongesiens verbygegaan nie. Die museum se werk om veeltaligheid te bevorder, is vanuit die instelling en gemeenskap geprys.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.