Die Universiteit Stellenbosch (US) en die hoëtegnologiemaatskappy Enlightened Isotopes, ’n filiaal van ASP Isotopes, het ’n navorsingsvennootskap ter waarde van R8,5 miljoen aangegaan om ’n protokol te ontwikkel vir die skeiding van die ytterbium-176-isotoop om gebruik te word as ’n radiofarmaseutiese middel in kankerbehandeling.
Isotoopproduserende maatskappye is wêreldwyd op soek na alternatiewe tegnologieë omdat tradisionele bronne, meestal kernreaktors, die einde van hul lewensiklusse bereik. Rusland en China is tans die wêreld se grootste verskaffers van isotope.
Dr. Christine Steenkamp, ’n laserfisikus in die US se departement fisika, is sedert 2015 besig om ondersoek in te stel na die gebruik van lasergebaseerde resonansie-ionisasie as ’n tegniek om atoomisotope vir mediese gebruik te suiwer. Sy doen navorsing op die gebied van resonansie-ionisasie-spektroskopie – ’n uiters sensitiewe en hoogs selektiewe analitiese metingsmetode om individuele atome en molekule op te spoor.
Steenkamp en haar span het reeds die tegniek suksesvol op sink-isotope toegepas, aangesien die produksie van suiwer sink-68 belangrik is vir die produksie van gallium-68 (wat in mediese PET- diagnostiese skanderings gebruik word).
Sy sê die projek sal uit twee fases bestaan. “Gedurende die eerste fase sal ons ons bestaande toerusting en eksperimentele opstelling gebruik om hierdie spesifieke ytterbium-isotoop te bestudeer en te verstaan. Dit sal ons ’n beter begrip gee van die eksperimentele opstelling wat nodig is om hierdie isotoop op kommersiële skaal te beheer en te skei van die materiaal waarin dit natuurlik voorkom.”
Ytterbium is ’n skaars aard-chemiese element (Yb) wat natuurlik in erts voorkom. Een van sy sewe isotope, ytterbium-176, kan maklik na radioaktiewe lutetium-177 omgeskakel word, wat hoofsaaklik in die behandeling van prostaatkanker gebruik word. In kerngeneeskunde word isotope wat lae vlakke van bestraling vrystel, gebruik om kankerselle te teiken.
Aangesien liggaamsweefsel, wat deur kanker geraak word, verhoogde selaktiwiteit het, sal die kankerselle méér van die radioaktiewe isotope absorbeer. Op hierdie wyse word kankerselle dus geteiken.
Terapeutiese isotope is egter baie duur en kan tienduisende dollar per gram kos. En aangesien hierdie isotope slegs vir ’n kort tydperk radioaktief bly, moet hul naby hospitale vervaardig word.
Prof. Pieter Neethling, direkteur van die Stellenbosch- Instituut vir Fotonika by die US en medenavorser van die projek, sê hoë vlakke van kundigheid en gespesialiseerde toerusting is voorvereistes vir die ontwikkeling van so ’n protokol. “Ons is baie opgewonde om te kan bydra tot die ontwikkeling van so ’n hoëtegnologie-isotoopverrykingsfasiliteit in Suid-Afrika.”
Josua Oosthuizen, projekbestuurder by Enlightened Isotopes en ASP Isotopes, sê hulle sien daarna uit om saam met ’n wêreldklas-span by die US te werk. “Hoewel die werk tans op Yb-176 fokus, het ons ’n klomp mediese isotope in die pyplyn wat in die toekoms in vennootskap met die US-span ontwikkel sal word.”