Die bekroonde teaterproduksie Liewe Heksie vang vis is as deel van die Toyota US Woordfees op die planke by die Drostdy-teater.
Verna Vels se immergroen verhale kry lewe met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie. Margit Meyer-Rödenbeck is die nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf.
In die produksie span die geliefde Heksie haar besem in as ’n visstok, maar dit sukkel maar om ’n vis te laat byt. Sy raak vreeslik opgewonde as sy wel daarin slaag.
“Haai oe, dis vir my so lekker as ek ’n vis vang. Dan sing ek sommer ’n liedjie en die vis wil saam sing. Ek weet, want sy bek gaan so oop en toe. Dalk gaap hy omdat hy moeg is, dan gooi ek hom terug en vang ’n nuwe ene.”
Maar hoekom raak Koning Rosekrans se forelle dan minder? Is Levinia die skuldige of is die nare Geelheks ook weer in die prentjie? Liewe Heksie het dringend die kleinspan se hulp nodig.
In 2022 het dieselfde span die Absa KKNK Kanna-prys vir beste kinderteater ontvang en is vanjaar vir ’n Fleur du Cap-prys benoem. Die tydlose Liewe Heksie is perfekte vermaak vir die hele gesin.
- Die vertoning is Maandag 9 Oktober (10:30), Vrydag 13 Oktober (15:30) en Saterdag 14 Oktober (10:30) by die Drostdy-teater te sien. Bespreek kaartjies aanlyn by Quicket.