Die Vaaldraai-buurtwag het die afgelope naweek na inwoners van die plaas Langrust in Simondium uitgereik en sop uitgedeel. “Ons het in besit gekom van geld vir die doel van gemeenskapsprojekte. Ek en my span het vergader en van hulle het genoem van ’n plaas waar daar families is wat baie swaar kry, selfs iets om te eet is daagliks ’n kommernis. Dis toe ons besluit het op ’n voedingskema. Die doel was om die finansiering vir iets goeds aan te wend en te kyk om ten minste ’n baie klein verskil te maak in iemand se dag. Die weer was bietjie koel, toe besluit ons dat ’n warm bakkie sop en ’n stukkie brood paslik sou wees. Nege lede het hulle beskikbaar gemaak en ons het ’n paar bobaas-kokke in die span. Ongeveer ses gesinne het by die projek baat gevind. Ons is ook baie dankbaar aan Desmond Solomons wat vervoer beskikbaar gemaak het. Tydens ons besoek het ons opgelet dat daar ’n redelike tekort aan klere is, dus beoog ons om weer terug te gaan met klere wat ons tans besig is om in te samel,” sê Cynthia Nasua, voorsitter van die buurtwag.Foto:

Credit: SYSTEM