Ná 37 jaar van skoolhou skop hy sy skoolskoene uit.
Joseph Arendse (59) het 31 Maart totsiens gesê aan die leerders en onderwysers van Hoërskool Kylemore.
Van die 37 jaar as onderwyser was hy vir 26 jaar in diens by dié skool.
Arendse was deel van die span wat in 1991 begin het asook een van die eerste departementshoofde by die skool.
Die vakke wat hy aangebied het is Afrikaans huistaal, Afrikaans eerste addisionele taal en lewensoriëntering.
“As onderwyser kom daar baie uitdagings op jou pad vanweë ouers, leerders en medekollegas.”
Arendse sê hy het net geweet hoe om al die uitdagings te oorkom.
Sy grootste uitdaging was egter om leerders aan te moedig om hul potensiaal maksimaal te ontwikkel en te benut en om sommiges so ver te kry om hul toekomsdrome te vervul.
Hy noem dat hy sy werk baie geniet het, nie net om kennis oor te dra nie, maar om leerders lewensvaardighede aan te leer en logies te laat redeneer.
“Ek het dit geniet om les aan te bied vir leerders wat honger is om hul kennisvlak te verbreed.
“Die feit dat jy vroeër leerders nog kon dissiplineer, het ’n verskil gemaak. Nadat oudleerders se kinders die hoërskool betree het, kon jy duidelik uit leerders se gedrag en ingesteldheid teenoor hul werk aflei dat sommige na hulle ouers aard.”
Arendse het sy hoërskoolloopbaan aan die Sekondêre Skool Paulus Joubert voltooi, waarna hy sy onderwysopleiding en nagraadse studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi het.
Daarna het hy onderrig gegee by die Sekondêre Skole Windemere en Klein-Nederburg voordat hy by Kylemore aangesluit het.
“Ek gaan die skoolhou mis vir die feit dat ek vir 37 jaar betrokke was in verskillende gemeenskappe asook die rol wat ek kon speel om ‘n verskil te maak.
“Andersyds gaan ek die leerders se verskillende persoonlikhede mis. Hulle strewe soms te hard daarna om ordentlike mense te wees en sit in die meeste gevalle die pot lelik mis.”
Die liefde vir kinders wat jy as onderwyser ontwikkel en hoe hulle op hul beurt wys dat hulle jou waardeer, is iets wat altyd uitgestaan het vir hom.
Arendse wil onthou word vir die liefdevolle en omgeemens wat hy is. Die een wat net die beste vir ander wil gee.
Hoërskool Kylemore wens hom ’n welverdiende ruskans toe.