Die o.10- en o.13-sokkerspanne van Jamestown het hul onderskeie toernooie gewen. Dié dorpie het ook die gesogte Gees-beker ontvang.

Die Terug-Skool-Toe-Ruimte- Olimpiese sportdag, wat die afgelope Saterdag (10 Januarie) by die Court of Dreams in Idasvallei aangebied is, het die somerskoolvakansieprogram van die e’Bosch-erfenisprojek op ‘n kleurvolle en energieke wyse afgesluit.

Kinders van verskeie Stellenbosch-dorpies het saamgekom vir ‘n dag wat eenheid, talent en die vreugde van deelname vier. Die verrigtinge het met ‘n lewendige vlagseremonie begin, waartydens elke dorpie met hul baniere, sang en dans die Court of Dreams betree het.

As deel van die ruimtetema het spanne op kreatiewe wyse planete soos Jupiter, Saturnus en Mercurius, asook mane soos Io, Proteus en Ganymede verteenwoordig en sodoende die tema op ‘n verbeeldingryke wyse tot lewe gebring.

Altesaam 16 vakansieprogramme is in 11 van Stellenbosch se dorpies aangebied, met al die dorpies se deelnemers wat die afgelope Saterdag (10 Januarie) aan ‘n sportdag in Idasvallei deelgeneem het.

Deur die loop van die dag het die bane gegons met mededingende maar sportiewe sokker- en netbalwedstryde in die o.10-, o.13- en o.16-ouderdomsgroepe.

Die netbalkampioene was Klapmuts (o.10), Cloetesville (o.13) en Idasvallei (o.16), terwyl Jamestown sokkeroorwinnings in beide die o.10- en o.13-afdelings behaal het.

De Novo het die sokkerkompetisie afgesluit met ‘n welverdiende oorwinning in die o.16-afdeling.

Kulturele viering is versterk deur die insluiting van inheemse tradisionele spele, waaronder ncuva, kho-kho, kgati, drie-stokkies en dibeke.

Hierdie spele het groot entoesiasme ontlok en die belangrikheid van erfenis, inklusiwiteit en gedeelde ervarings beklemtoon.

Jamestown is ook met die Gees-trofee vereer vir sy uitsonderlike sportmangees, energie en spanwerk – een van die hoogtepunte van die dag.

Die Ruimte-Olimpiese sportdag het hoop, selfvertroue en die krag van gemeenskap gevier.

Dit het jong deelnemers ‘n platform gebied om te skitter, verhoudings te bou en die nuwe skooljaar gemotiveerd en geïnspireerd te begin – ‘n gepaste en opbouende afsluiting van die vakansieprogram.

• Skakel 061 595 4085 of stuur e-pos na [email protected] of [email protected] vir nog inligting oor die e’Bosch-erfenisprojek en beplande toekomstige vakansieprogramme.

Amanda Horne, die waarnemende hoof van e’Bosch, en die organisasie se sportkoördineer, William Horne, met die beste sokkerspelers vir elke ouderdomsgroep.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article