Gemeenskapsleiers en medewerkers van 11 van Stellenbosch se dorpies het saamgetrek om te beplan aan konstruktiewe vryetydbesteding vir kinders van Stellenbosch.
Opleiding is aangebied rakende organisering, beveiliging en ’n holistiese benadering tot praktiese aktiwiteite.
Die aanbieding van ’n skoolvakansieprogram verg ’n spanpoging en medewerkers uit alle sektore van die gemeenskap word genooi om deel te neem.
Spesifieke opleiding wat oor die volgende vier weke aangebied word, sluit in: drama, sport en ontspanning, musiek en beweging, avontuur en kunsvlyt.
Alle bestaande jeugwerkers, Sondagskoolonderwysers, naskoolsentrums, vroeëkinderontwikkeling- en kreatiwiteitsonderwysers by skole kan baat vind by die opleiding en word genooi om in te skryf.
Daar is net 30 plekke per opleidingsgeleentheid beskikbaar en registrasie is gratis.
Die uitnodiging is om saam te span om seker te maak al die kinders van Stellenbosch is nie net veilig tydens die skoolvakansie nie, maar ook dat hul sleutelvaardighede groei, wat insluit ’n positiewe identiteit, interpersoonlike vaardighede en positiewe waardes.
Die program word deur e’Bosch as sameroeper van die Batebouer-netwerk en in samewerking met Stellenbosch-skolenetwerk, Stellenbosch-gebedsnetwerk, Serve Ministries, Stellenbosch Academy for Sport en ’n menigte medewerker aangebied.
Die Batebouer-netwerk het as doelwit dat elke kind in Stellenbosch voldoende ontwikkelingsbates (30 of meer) het om te floreer.
Die aanbiedings sal soos volg plaasvind:
. Saterdag 4 Junie van 09:00 tot 13:00: drama;
. Saterdag 11 Junie van 09:00 tot 13:00: musiek (maak van musiekinstrument);
. Donderdag 16 Junie van 09:00 tot 13:00: kunsvlyt en kreatiwiteit; en
. Saterdag 18 Junie van 09:00 tot 13:00: avontuur en sport/ontspanning.
. Bel Robyn Philips by 071 864 6252 vir bydraes, inskrywings of om meer inligting te bekom.