Dorpie-verteenwoordigers het Saterdag 18 Mei byeengekom vir ’n beplanningsessie vir die e’Bosch-skoolvakansieprogram.


Die e’Bosch-erfenisprojek, in samewerking met StellSorg, Stellenbosch Akademie vir Sport en die Jannie Mouton-stigting, berei vir nog ’n skoolvakansieprogram voor.

Gemeenskapsleiers van die 14 dorpies van Stellenbosch werk saam om kinders tussen die ouderdom van ses en 18 jaar van gesonde en konstruktiewe aktiwiteite gedurende die winterskoolvakansie te voorsien. Die program word van Maandag 17 Junie tot Saterdag 6 Julie aangebied.

Vanjaar se program fokus op die Olimpiese Spele en sy waardes: uitnemendheid, respek en vriendskap. Die aktiwiteite van elke dorpie se programme sal lei tot die hoof – Olimpiese Skouspel-geleentheid in die Stellenbosch-stadsaal op 6 Julie.

Deelnemers sal deur middel van kuns-en-handwerk-aktiwiteite ’n kans kry om hul kreatiwiteit uit te druk.

Hulle sal dan oor die drie weke onder meer vlae, kostuums en kos moet maak wat alles ooreenstem met hul spesifieke land. Sport en ontspanning sal ook ingesluit word, waar hulle toegerus sal word met karakterontwikkelings-vaardighede. Netbal-, vyf-aan-’n-kant- sokker- en skaaktoernooie vind Dinsdag 2 Julie plaas.

Drama speel ook ’n groot rol in die program deurdat die groepe ’n kort drama sal moet skep wat met hul land ooreenstem.

Elke Vrydag is dit “Deernisdag”, waar deelnemers ’n uitreikaksie na ’n belanghebbende wat ondersteuning en erkenning nodig het in hul gemeenskap, moet doen.

Die doel is om die rol wat hierdie organisasies en fasiliteite in hul gemeenskappe speel, te erken. Hierdie fasiliteite kan plaaslike tehuise of enige instelling van gemeenskapsorg wees.

Die organisering van so ’n groot program verg baie spanwerk en samewerking, daarom sal fasiliteerders opleiding van vier weke ontvang, wat drama, ontspanning en sport, musiek en beweging, en kuns en kunsvlyt insluit. Alle jeugwerkers, Sondagskoolonder-wysers, VKO’s en kreatiwiteits-onderwysers kan baat vind by die opleiding en word genooi om deel te neem.

Registrasie vir die opleiding is gratis, aangesien die doel is om nie net die kinders se veiligheid tydens die program te verseker nie, maar ook dat hul kernvermoëns, soos positiewe identiteite en waardes, groei.

Opleidingsessies word van 09:00 tot 14:00 soos volg aangebied:

  • Saterdag 25 Mei – ontspanning en sport;
  • Saterdag 1 Junie – musiek en beweging;
  • Saterdag 8 Junie – drama; en
  • Saterdag 15 Junie – kuns en kunsvlyt.
  • Organisasies wat wil help, vir die opleidingsessies wil inskryf of meer inligting oor die programme benodig, kan Carol per WhatsApp by 061 595 4085 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.