Vakansieprojek ’n reusesukses

Die e’Bosch-erfenisprojek se skoolvakansieprojek wat daarop gemik is om leerders en jeug gedurende die Junieskoolvakansie konstruktief besig te hou het die afgelope naweek tot ’n einde gekom.


Die e’Bosch-erfenisprojek se skoolvakansieprojek wat daarop gemik is om leerders en jeug gedurende die Junieskoolvakansie konstruktief besig te hou het die afgelope naweek tot ’n einde gekom.

Ná vier weke van voorbereiding – tussen 3 en 24 Junie – en drie weke van vakansieprogramme – tussen 26 Junie en 14 Julie – oor die lengte en breedte van Stellenbosch, het die skoolvakansieprogram met twee hoogtepunte afgesluit.

Die eerste hoogtepunt was die sportsaamtrek wat op 12 Julie ongeveer 500 deelnemers en toeskouers van die 13 dorpies na die Court of Dreams by Idasvallei-sportterrein gelok het.

“Verskeie sportspanne het mekaar gepak van 09:00 af om teen die einde van die dag as 2023 se kampioene uit die stryd te tree.

“Stellenbosch Akademie van Sport en die Stellenbosch FC-klublede het deel uitgemaak van die dag se verrigtinge en het hul kundigheid met die jongelinge gedeel,”sê Carol Lakay van e’Bosch.

Die o.12- en o.14-netbalspanne van Idasvallei, en die o.17-netbalspan van Khayamandi is as die netbalkampioene aangewys.

Die o.12- en o.14-sokkerspanne van Idasvallei en die o.17-sokkerspan van Khayamandi het in die sokker as oorwinnaars uitgetree.

“Die hoogtepunt van die dag was beslis die oorhandiging van medaljes en trofeë deur Lee Langeveldt, kaptein van Stellenbosch FC en sy klublede aan die wenners van al die kategorieë.”

Op Saterdag 15 Julie het die dorpies hul kultuur-items, onder die tema “’n Hele Nuwe Wêreld”, by die Stellenbosse stadsaal tentoongestel.

“Dansies en musiek-items is met groot opgewondenheid deur die deelnemers aangebied. Ongeveer 230 deelnemers en toeskouers het die dag in ’n feestelike atmosfeer afgesluit toe Nazley Nortjie as Mej. e’Bosch Jamestown verkies is.

“Sy sal haar (streek) dorpie Jamestown verteenwoordig by Mej. e’Bosch gedurende die Desembervakansieprogram-kompetisie, waar al 14 dorpies se deelnemers sal meeding om die gesogte Mej. e’Bosch 2023- titel.

“Ons dank gaan aan die volgende organisasies vir hul bydrae tot die sukses van vanjaar se vakansieprogram: Stellenbosch Akademie van Sport, Stellenbosch FC, aQuellé, Stellenbosch-munisipaliteit, Markötter-sportterrein, De Laer, Jannie Mouton-stigting, Real Deal, Stellenbosch Skole Netwerk, Stellenbosch Batebouers Netwerk, StellSorg, Hands Unite, Work4ALiving, Hungry Lion en ons koördineerders en hul assistente.”

Vir meer inligting oor toekomstige vakansieprogramme van e’Bosch-erfenisprojek bel die WhatsApp projekbestuurder Wynanda Brinkhuis by 061 595 4085, of stuur e-pos aan Carol Lakay by carol@ebosch.co.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.