Die Hoër Meisieskool Bloemhof se adjunkhoof, Anne-Marie Klink, is as die nuwe skoolhoof van die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein aangestel en sal in die middel van Februarie daar begin.
Klink, wat sedert 1991 by Bloemhof as onderwyser in rekeningkunde en ekonomie werksaam is, het in 2011 die leisels as adjunkhoof oorgeneem.
“Dit is met groot hartseer dat ons van haar moet afskeid neem,” sê Stephan Meyer, die kommunikasiebestuurder. “Ons is ongelooflik trots op haar en weet Anne-Marie se besonderse werksetiek en puik administratiewe vermoë maak haar aanstelling ’n reuse-aanwins vir die Oranjeniete. Ons wens haar net die beste toe met die taak wat voorlê.”
Dit is gelukkig net tot siens en nie vaarwel nie, want Bloemhof en Oranje ontmoet mekaar jaarliks in Augustus vir die interskolebyeenkoms. Hiervoor sal die Stellenbossers vanjaar na Bloemfontein reis.