Die gewilde nuwe rock-orkes Van der Aven stel môre (Vrydag 7 Oktober) sy EP by Daisy Jones Bar in Stellenbosch bekend. Die “selfgetitelde ses-snit EP” bevat Afrikaanse en Engelse liedjies en is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch, met behulp van Jürgen von Wechmar. Die eerste liedjie van die EP, “Heimwee”, is in Junie bekend gestel. Al die liedjies op die EP vertoon die omvang van die groep se besonderse talent met onder meer sagter akoestiese klanke (soos gehoor in “Easy”), sowel as rock (“Slaap jy Al”) tot en met elektroniese elemente soos gehoor kan word in “Afskeid”. Die orkes bestaan uit Pail Avenant van Woodstock, Roelof van der Merwe van Stellenbosch en die Paarliet Theunis van der Merwe. Die bekendstelling neem die vorm van ’n konsert aan, met Jacob Swann wat die verrigtinge om 20:00 op die verhoog open. Daarna is dit Van der Aven se beurt om van 21:00 die gehoor met hul musiek te betower. Die deure open reeds om 17:00 vir kos-bestellings. Kaartjies kan aanlyn teen R120 per persoon by Quicket bespreek word, of kan teen R150 by die deur gekoop word.Foto: Dawid van Niekerk