Die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub (VDE) het Saterdag (14 Junie) na die vyfde plek op die Superliga A-punteleer geklim toe hy in die derby teen Maties met 41-34 op tuisbodem as oorwinnaars van die veld af gestap het.

Maties het sy span versterk deur sy Varsitybekerspelers in te sluit om op te maak vir sy power pogings tot dusver in die kompetisie. Die Maroentruie is derde laaste plek op die punteleer – een van die laagtepunte in hul geskiedenis tot dusver.

By tye moes VDE bontstaan om die studente se aanslag op sy doellyn te keer. Net VDE se hegte verdediging of blapse voor die doellyn het die studente van punte beroof.

Met die liga wat sy halfpadmerk bereik het, gee geen span die toon in Superliga A aan nie. Die eerste drie plekke wissel weekliks tussen

Villager, Durbell en Valsbaai, wat almal reeds agt wedstryde gespeel het. Met Hamiltons, tans die verdedigende kampioen, wat twee wedstryde minder gespeel het, sal geesdriftiges moet wag tot die voorlaaste wedstryde om te sien wie nou eintlik die kitaar hier slaan.

Met VDE se wen in die derby het hy weer eens beklemtoon dat hy nie daar is om die spanlys vol te maak nie, maar dat hy goeie rekenskap van homself gee. Die feit dat VDE uit die sones tot in Superliga A gevorder het, is gewis nie ‘n gelukskoot nie en kan toegeskryf word aan die toegewydheid van die afrigtingspan en die spelers wat hul praatwerk op die veld doen.

VDE moet nog kragte meet teen Helderberg, Hamiltons, Villager, Tygerberg, SK-Walmers, Ikeys en UWK – almal harde neute om te kraak – maar VDE se doel is om onder die topses te eindig.

Die ander Stellenbosse spanne het in hul onderskeie ligas gemengde welslae behaal. In Superliga B is Franschhoek en Kylemore die verteenwoordigers en is dit net Franschhoek wat nog ‘n hond haaraf kon maak. Kylemore sukkel om die mas op te kom en is laaste op die punteleer. Kylemore het juis met 36-24 teen Franschhoek vasgeval.

In Superliga C swoeg Pniël Villagers moedig voort en het 17 punte ná sewe wedstryde op die telbord.

In die Noordelike liga het Raithby Universals vir Sir Lowrians van sy troontjie gestoot en met 23-20 geklop om die louere in dié liga te wen. Blue Stars was te sterk vir Windmeul en laasgenoemde is met 51-12 huis toe gestuur. Stellenbosch-Coronation het Gordonsbaai Pioneers 26-8 gewen, terwyl Excelsior die knie met 29-19 teen Whistling Wheels moes buig.

You need to be Logged In to leave a comment.