’n Triomfantelike Van der Stel-Evergreens nadat hulle Saterdag vir Kraaifontein met 36-34 geklop het om bevordering na Superliga A te wen. Foto: CS Photography


Toeskouers wat Saterdag (31 Augustus) die halfeindstryde van die Westelike Provinsie-rugbyunie se klubwedstryde op City Park in Athlone bygewoon het, kan nie kla dat hulle nie rugby van hoogstaande gehalte gesien het nie.

Hoewel alle halfeindstryde in Superliga A, B en C, asook die WP-Vrouekompetisie, beslis is, was die grootste belangstelling in die kragmetings tussen die twee Stellenbosse buurspanne, Van der Stel-Evergreens (VDE) teen Kraaifontein, en Franschhoek teen UWK.

Die Stellenbosse spanne het gemengde welslae gehad, want VDE is volgende jaar saam met Maties in Superliga A ná sy oorwinning van 36-34 oor Kraaifontein, terwyl Franschhoek teen UWK in sy halfeindstryd met 34-14 vasgeval het.

’n Onverdoelde drie in die doodsnikke het die oorwinning vir VDE verseker en gehelp dat VDE na Superliga A bevorder is.

Franschhoek kry Saterdag 14 September weer kans om as die derde span te kwalifiseer om in ’n relegasie /promosie-wedstryd teen die span in posisie 13 in Superliga A te speel, maar voor dit moet hy kragte meet teen Kraaifontein om te bepaal wie die kans gaan kry om as die derde span te kwalifiseer.

Die wedstryd tussen Kraaifontein en VDE het die heeltyd wipplank gery en albei spanne se ondersteuners het tot die laaste vyf minute naels gekou oor wie as die wenners sou seëvier.

VDE sal ook op 14 September teen UWK, wat ook na Superliga A bevorder is, moet speel om te bepaal wie die wenner van Superliga B is.

Die Superliga C-stryd tussen Macassar en Atlantis vir promosie na Superliga B is deur Macassar met 30-17 gewen en Primrose was te goed vir Goodwood en het met 24-13 gewen.

Primrose en Macassar sal op 14 September tydens die uitspeel- en eindwedstryde moet uitspeel om die wenner van Superliga C te bepaal.

In Superliga A het Hamiltons gewys waarom hy die hele seisoen die botoon op die punteleer gevoer het, deur Kabamba Floors se Maties met 33-19 uit te stof.

In die ander halfeindstryd moes Durbell diep delf om ’n begeesterde UniMil met 22-19 te klop.

Busy Bees se vroue was te sterk vir KSUT en het met 12-0 gewen, terwyl Bellville vir Kuilsrivier ’n afgedankte loesing van 73-0 gegee het.

Dié week se blaaskans gee die spanne en spelers kans om bestek te neem van beserings om vir die uitspeel- en eindwedstryde gereed te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.