Die klubkrieketseisoen in die Boland het die afgelope naweek met ’n derbystryd tussen die Stellenbosch- en Van der Stel-krieketklubs by die Idasvallei-sportterrein amptelik begin.
Die eerste spanne van dié twee klubs het Saterdag (7 Oktober) in ’n 50-boulbeurtwedstryd in die Boland-krieket-premierliga kragte gemeet, met die besoekers, Van der Stel, wat die wedstryd met vyf paaltjies beklink het.
Lourens Smit, kaptein van Van der Stel, het die loot gewen en die besoekers ingestuur om te kolf. Die tuisspan, wat hierdie seisoen sy terugkeer na die Bolandse topliga maak, het deur sy kolfbeurt gesukkel om vennootskappe te bou en sy kolwers het oor die algemeen teen die Van der Stel-boulers gesukkel.
Stellenbosch is ná 48.4 boulbeurte vir slegs 120 lopies uitgeboul, met net sy kaptein, Peter Minnis (28), wat effense weerstand teen die besoekers se boulers kon bied.
Vir Van der Stel was dit ’n spanpoging met die bal, met Wynand Smit (3/20), JJ Lambrecht (2/27) en Rayyaan Rhode (2/16) wat waardevolle bydraes gelewer het. Op hul beurt het die Van der Stel-kolwers klinies te werk gegaan om die teiken te bereik (121/5). Hulle het die wenlopies in die 37ste boulbeurt aangeteken, met die aanvangskolwer Ruben de Bruin (42) en Byron Haycock (30) se 72-lopievennootskap wat tot die span se oorwinning gelei het.
Vir die tuisspan het die aanvangsboulers Laughton Barends (2/28) en Curtley Klaasen (1/29) asook Adrian Barros (1/28) paaltjies opgetel.
Die twee klubs se tweede spanne het ook Saterdag by die Bergzicht-sportterrein in die B-liga kragte gemeet.
Die besoekers (Stellenbosch-krieketklub) het die loot gewen en die tuisspan ingestuur om te kolf.
Hoewel Stellenbosch se boulers gereeld paaltjies laat val het, het die Van der Stel-aanvangskolwer, André Pienaar (150), die veldwerkers omtrent besig gehou. Hy is goed deur Armand Burger (44) ondersteun en Van der Stel het sy kolfbeurt met 247/8 ná 50 boulbeurte afgesluit.
Vir Stellenbosch was Bongo Nginigini (3/34) die beste bouler.
Die besoekers het gesukkel met die kolf en vinnig paaltjies verloor. Mpumzi Gabada (76), Brandon Layman (37) en Nginigini (33) het tot die totaal van 188/10 bygedra, maar die span moes die knie met 86 lopies buig.