Die eerste span van die Van der Stel-krieketklub het op Saterdag 1 November sy plek boaan die punteleer van Groep A van die Boland-gemeenskapsbeker met ‘n 23-lopie-sege teen die Young Peoples-krieketklub verseker.
Die oorwinning het ook die onoorwonne Van der Stel se plek in die eindstryd van die kompetisie beklink.
Die spanne het mekaar op die Van der Stel-sportterrein in die 20-boulbeurt-wedstryd die stryd aangesê – die laaste rondomtaliestryd in dié groep.
LEES OOK: Klubkrieket: Van der Stel, Coronations loop voor in Boland-gemeenskapsbeker
AAN DIE ‘BRAND’
Die besoekers van Paarl het die loot gewen en Van der Stel ingestuur om te kolf. Die aanvangskolwer, Werner Brand, het 61 lopies van 59 balle gemoker voordat hy uitgeboul is.
Brand en Connor Batt (35) het die tuisspan op koers gesit om aan die einde van hul 20 boulbeurte met 123/6 op die telbord te pronk. Vir Young Peoples was Clint Philander (3/19) en Haygen Hermanus (2/11) in die kol met die bal.
Op hul beurt het die besoekers gesukkel met die kolf en nie veel antwoorde vir die gedissi- plineerde Van der Stel-boulers gehad nie. Slegs Akeem Minnaar (50) het ‘n waardevolle bydrae tot sy span se lopie-jaagtog gelewer en hulle kon net 100/8 in hul 20 beurte aanteken.
Brand (3/10), Dylan Ross-Watt (2/16) en Rayyaan Rhode (2/4) het tot hul span se uiteindelike oorwinning bygedra.
Van der Stel kom Saterdag 8 November teen die Vredenburg-Saldanha-krieketklub in die eindstryd te staan. Die wedstryd word op die neutrale Pen Basson-veld in Wellington gespeel.
CYSTER SKITTER
Die span van die Coronation-krieketklub kon in sy laaste Groep A-wedstryd teen die Paarl-krieketklub op die Pniël-sporterrein nie die mas opkom nie.
Die tuisspan se kaptein, Zemile Adams, het die loot gewen en die besoekers gevra om eerste te kolf. Die Corries-boulers het hulle goed van hul taak gekwyt deur Paarl tot 108/9 in hul 20 beurte te beperk.
Dit was veral die gedissiplineerde boulwerk van Leighton Dennis (3/15), Charl Cyster (2/14) en Kiano Valentine (2/29) wat tot hul span se goeie poging gelei het, terwyl Stefan Conradie (56) met die kolf vir Paarl geskitter het.
Maar die Corries-kolwers het gesukkel om enige ritme te vind en hulle is uiteindelik vir slegs 75 lopies uitgehaal om die knie met 33 lopies te buig.
Cyster (31) was die enigste kolwer wat ‘n noemenswaardige beurt gespeel het, terwyl die Paarliete Luke Philander (4/9) en Juanrico Vorster (2/7) die regte vrae aan die kolwers gerig het.
Coronation het met drie seges en twee nederlae in die derde plek op die Groep A-punteleer geëindig.
STELLENBOSCH STRUIKEL
Intussen kon die span van die Stellenbosch-krieketklub ook nie in sy Groep B-wedstryd op die New Orleans-sportveld teen die Paarl-Oos-krieketklub die wa deur die drif trek nie.
Die Stellenbossers het die loot gewen en eerste gekolf, maar hul kol-wers het gesukkel om teen die Paarliete lopies aan te teken.
Net Yaasier Johnson (34) het vir sy span hand opgesteek en die besoekers het hul beurt op 110/6 afgesluit.
Die Paarl-Oos-kolwers het op hul beurt slegs 13.1 beurte benodig om oor die lyn te kom (111/1), met Jevondré Jacobs (62*) en Tyrese de Louw (34*) wat die Stellenbosch-boulers omtrent laat les opsê het.
Noah Muller (1/12) het die enigste paaltjie laat kantel.
Stellenbosch het slegs een oorwinning uit sy vier wedstryde in die T20-kompetisie behaal, en het onder aan die Groep B-punteleer geëindig.
Weens die komende naweek se eindstryd is beide Stellenbosch en Coronations nie Saterdag in aksie nie. Hulle berei nou voor vir die Premierliga-50-boulbeurt- kompetisie, wat op Saterdag 6 Desember begin.


