Van der Stel wen terwyl Stellenbosch klippe kou

Die Van der Stel-krieketklub het sy goeie vorm hervat en die afgelope naweek ’n oorheersende sege oor die Coronations-krieketklub in die T20-Gemeenskapsbekertoernooi se Premier A-reeks behaal.


Die Van der Stel-krieketklub het sy goeie vorm hervat en die afgelope naweek ’n oorheersende sege oor die Coronations-krieketklub in die T20-Gemeenskapsbekertoernooi se Premier A-reeks behaal.

Die spanne het Saterdag (26 Oktober) by die Pniël-sportterrein kragte gemeet, met Coronations wat besluit het om eerste te kolf toe hy die loot gewen het. Dit was dalk die verkeerde besluit, want die span van die Dwarsriviervallei het nooit regtig gemaklik voor die paaltjies gelyk nie.

Hulle het slegs 90 lopies op die telbord gehad toe al hul kolwers ná 17.1 boulbeurte terug in die kleedkamer was.

Lehan Botha (35; 1×4, 2×6) en Charl Cyster (21; 2×6) was die enigste kolwers wat weerstand teen die Van der Stel-boulaanval gebied het. Vir die Stellenbossers was Divan Swanepoel (4/16), Rayyaan Rhode (3/33) en Wynand Smit (2/2) in die kol met die bal.

Op hul beurt was die kolwers van Van der Stel in ’n vernietigende bui en het die teiken met gemak in die 16de boulbeurt behaal (91/3).

Pieter Malan (47*; 5×4, 1×6) en Shaun von Berg (30; 3×4) was die Stellenbossers se beste kolwers, terwyl Frederick Hendricks (2/20) sy bes gedoen het om Coronations se teiken te verdedig.

In Idasvallei het die Stellenbosch-krieketklub in sy T20-wedstryd teen die Wellington-krieketklub klippe gekou en met 29 lopies die knie gebuig.

Die besoekers het die loot gewen, eerste gekolf en 123/8 in hul 20 boulbeurte aangeteken. Steven Abrahams (39; 4×4) en Garreth Wolmarans (33; 2×6) het die meeste lopies vir Wellington aangeteken, terwyl Alveano Carolus (3/13) en Bradley Jephtas (2/19) Stellenbosch se beste boulers was.

Die tuisspan het in sy kolfbeurt gesukkel om aan te gang te kom en nooit regtig gemaklik voor die penne gelyk nie. Stellenbosch is in die 18de boulbeurt almal vir slegs 94 lopies uitgehaal, met net Morné de Vries (29; 1×6) wat ’n noemenswaardige telling aangeteken het.

Abrahams (5/6) het met die bal vir Wellington geskitter en is goed deur Wesley Engelbrecht (3/20) ondersteun.

. Hierdie naweek is die Stellenbosch-krieketklub Saterdag en Sondag (2 en 3 November) in die kompetisie in aksie. Hulle reis Saterdag om kragte met die Robertson-krieketklub te meet en is Sondag terug in Idasvallei om teen die Coronations-krieketklub te speel.

Van der Stel, tans tweede op die punteleer, reis Saterdag na die Pen Basson-ovaal om teen die eerste gekeurde Wellington te staan te kom.

Coronations en Van der Stel geniet Saterdag ’n loslootjie. Die spanne van Maties en Victoriane is nie deel van die T20-Gemeenskapsbekertoernooi nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.