Van die Kaap tot in Boston

,

Van Suid-Afrika tot Amerika – daar is maar min roetes wat die Suid-Afrikaanse langasem Sidney Cleophas nie sal aanpak nie. Dié Pniël-boorling het vanjaar die bekende Bostonmaraton in die VSA […]


Van Suid-Afrika tot Amerika – daar is maar min roetes wat die Suid-Afrikaanse langasem Sidney Cleophas nie sal aanpak nie.

Dié Pniël-boorling het vanjaar die bekende Bostonmaraton in die VSA aangepak. Cleophas het reeds verskeie marathons en ultramarathons afgelê, met sy gunsteling die Twee Oseane-wedloop. “Ek het op hoërskool begin hardloop en in die 1970’s aan die 800 m- en 1 500 m-wedlope begin deelneem. Ná skool het ek as ’n tegnikus by Telkom gewerk waar ek ’n kollega gehad wat my aan die Pinelands-atletiekklub bekendgestel het,” verduidelik hy.

Die 68-jarige atleet is steeds lid van dié klub. Die Boston-marathon, wat jaarliks op die derde Maandag van April plaasvind, was nog altyd op Cleophas se marathon-lys en om verlede maand deel te neem was ’n droom wat bewaarheid is. “Die marathon was regtig next level. Daar is nie ’n gelykstaande wedloop in Suid-Afrika nie – alles van die manier hoe dit georganiseer is tot die skare langs die
roete was regtig ’n besonderse ervaring.

“Die oggend vroeg klim jy op ’n bus – die geel busse wat jy altyd op die televisie sien – om na die beginpunt van die wedloop te gaan. Hier is ons in groepe verdeel, met die eerste atlete – die top-atlete – wat om 09:00 weggespring het.”

Cleophas het om 11:00 weggespring en in die great grand master-afdeling deelgeneem. “Ek is baie tevrede met my tyd – drie ure en 50 minute. Dit was verskriklik koud op die dag, hoewel dit reeds lente daar was. Ek het drie lae klere aangehad toe ek by die beginpunt was. Hoewel dit nie meer gesneeu het nie, was dit koud.

“Daar was egter geen punt langs die roete waar daar nie skare was nie en daar was ook baie toeriste in die skare.

“Een verskil van plaaslike wedlope is dat jy niks koeldrank kry nie. Daar was water en sap, maar nie ’n glasie Coke, soos jy altyd hier kry nie. En dit is altyd so lekker om die bietjie suiker ná ’n wedloop in te
kry,” meen hy.

Hy sê ten spyte van jare se ervaring word wedlope nie makliker nie, want elke jaar word jy as atleet ouer. Noudat hy sy Amerikaanse droom bewaarheid het, wil hy nog graag die Londonse marathon of ander oorsese wedlope aanpak. “Indien ek die geld gehad het, sou ek hulle almal gedoen het,” sê hy skertsend.

Sidney Cleophas nadat hy die Bostonmaraton in die VSA aangepak het.

You need to be Logged In to leave a comment.