Twintig pasiënte kan weer sien, danksy 'n gemeenskaps-inisiatief deur dr. Steve Smith en Mediclinic Stellenbosch.
Twintig pasiënte kan weer sien, danksy ‘n gemeenskaps-inisiatief deur dr. Steve Smith en Mediclinic Stellenbosch. Foto: Freepik (ter illustrasie)

Waar daar eens net wasigheid was, kan 20 pasiënte nou duidelik sien danksy ‘n jaarlikse gemeenskapsinisiatief deur dr. Steve Steyn en Mediclinic Stellenbosch.

Steyn en sy kollegas het vir die sesde keer danksy hul borge gratis katarak-operasies aan inwoners van Stellenbosch en die omliggende gebied verskaf.

As deel van Oogsorg-bewusmakingsmaand in Oktober hou Steyn, ‘n oogspesialis, jaarliks ‘n pro bono-dag.

Vir talle van die staatspasiënte was Donderdag 16 Oktober se operasie hul tweede katarak-prosudere.

Lucy Nonzenzele (80) van Jamestown sê hoewel die katarakte nie pynlik was nie, is sy bly sy kan weer sien. “In die nag het my oë so erg gejeuk. Elke keer wanneer ek dit gevryf het, het dit erg getraan. Ek sal nou beter televisie kan kyk,” sê die tuinier.

asmin Dollie, Herman van der Westhuizen, Jasmina Mohamedit, Susanna Swart en Elizabeth Waries is van die pasiënte wat onlangs gratis karatarak-operasies ondergaan het, danksy 'n inisiatief van die oogspesialis dr. Steven Steyn en die span van Mediclinic Stellenbosch. Foto: Yaël Malgas
Jasmin Dollie, Herman van der Westhuizen, Jasmina Mohamedit, Susanna Swart en Elizabeth Waries is van die pasiënte wat onlangs gratis karatarak-operasies ondergaan het, danksy ‘n inisiatief van die oogspesialis dr. Steven Steyn en die span van Mediclinic Stellenbosch. Foto: Yaël Malgas

JARE VAN WAG VERBY

Die lense vir die betrokke prosedures is oudergewoonte deur Isoclear geskenk. Volgens Steyn is dit nooit ‘n probleem om vrywilligers vir die pro bono-dag te kry nie danksy sy kollegas wat altyd bereid is om te help.

Die narkotiseurs dr. Rozali Spies en dr. Auret Lochner was vanjaar deel van die span en altesaam 20 pasiënte is in een oggend gehelp.

Die Paarliet Ken Gombard sê verlede Donderdag se katarak-operasie was anders as sy eerste. “Tydens die vorige operasie kon ek sien hoe die naald na my oog kom. Ek kan natuurlik niks voel nie, maar ek kon sien hoe hulle die ou lens opbreek. Hierdie keer kon ek niks voel of sien nie en dit was alles vinnig verby.”

Die gratis operasie was vir Jasmine Dollie (58) ‘n groot verligting. Sy was reeds drie jaar lank op die waglys vir ‘n katarak-operasie by die Tygerberg-hospitaal. Dollie, van Belhar, sê dié hospitaal sou haar eers in November kon bystaan.

GEMEENSKAP WERK SAAM

Volgens Steyn bly die gemeenskaps-inisiatief ‘n hoogtepunt op sy kalender.

“Dit is ‘n voorreg om dit te kan doen. Ons doen moeite vir mense in ons gemeenskap. Om iemand te help, is die wonderlikste ding in die wêreld; dit is maar waaroor die lewe gaan,” sê Steyn.

Spies sê sy is bly om te weet pasiënte wat jare lank vir die operasies moes wag, is gehelp, veral omdat baie pasiënte digte katarakte ontwikkel het.

“Sommige staatsinstansies sê eenvoudig hulle het nie meer plek op die waglys vir katarak-operasies nie, want hulle is te besig met operasies vir noodgevalle. Dit is wonderlik om te weet ons doen die operasie en die volgende dag sal hulle weer kan sien,” sê Spies.

Steyn bedank almal wat hand bygesit het vir die dag, asook Mediclinic Stellenbosch wat sy teater vir die operasies beskikbaar gestel het.

You need to be Logged In to leave a comment.