Lede van die buurtwag-strukture in Stellenbosch het oor die feestyd hand bygesit en ondersteuning gebied by die gesondheidsdepartement se mobiele inentingsentrum, die sogenaamde Vaxi Taxi.
Die Vaxi Taxi het op 30 Desember tussen 10:00 en 14:00 Covid-19-inentings by die Cloetesville-sportterrein aan inwoners toegedien as deel van die landwye poging om so veel as moontlik mense teen die Covid-19-virus in te ent.
Die verwelkoming en Covid-19-protokol is deur Gerald de Vries, die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), en Sandra Seigels van die munisipale rampbestuur behartig.
Die inenting-veldtog en brand- en veiligheidsbewusmakingsinisiatief was ’n stap in die regte rigting en ’n groot sukses, sê André van der Westhuizen van die buurtwag.
Ongeveer 90% van die mense wat op die dag ingeënt is, is jongmense tussen 18 en 25 wat in ag geneem het dat ’n inentingsertifikaat hul kanse om werk te kry en te studeer, aansienlik verhoog.
Die plaaslike munisipaliteit het ook sy ondersteuning tot die inentingsprogram getoon deur beamptes van wetstoepassing en rampbestuur beskikbaar te stel om saam met die buurtwagstrukture, die GPF en die Cloetesville-polisie te werk.
Nagenoeg 26 lede van die buurtwag het ook die strate ingevaar om inwoners wat nie ingeënt is nie, aan te moedig om hulle te laat inent asook om veiligheidsbewusmaking te doen.
“Ons bedank elke rolspeler wat deelgeneem het en die dag ’n sukses gemaak het. Covid-19 is nie ’n stryd wat elkeen op sy eie moet voer nie; dit verg die bystand van baie en almal moet verantwoordelik optree. Ons sal dit oorkom en 2022 ’n Covid-vrye Suid-Afrika maak,” sê Van der Westhuizen.