Met ses wedstryde oor in die Top-9, ook bekend as die Promosie-relegasiekompetisie van die Westelike Provinsie-rugbyunie, is dit twee uit twee vir die Stellenbosse rugbyklubs Van der Stel-Evergreens (VDE) en Blakes, wat tans die pas aangee.
Albei klubs het die afgelope Saterdag (30 Julie) hul tweede wedstryde in die kompetisie op hul tuisvelde gewen toe VDE vir Violets van Lansdowne met 43-20 en Blakes vir Noordelikes van Elsiesrivier met 22-12 geklop het.
Die les wat albei spanne in hul twee wedstryde tot dusver geleer het, is dat jy nie moet toelaat dat jou teenstanders bonuspunte aanteken nie, want ’n bonuspunt kan later in die kompetisie van groot waarde wees.
Blakes se wedstryd is 20 minute voor die einde deur die skeidsregter afgeblaas nadat ’n bakleiery uitgebreek het en sy waarskuwings op dowe ore geval het.
Op Bergzicht het VDE uit die staanspoor die krane oopgedraai en reeds voor rustyd die bonuspunt behaal deur 29-8 voor te loop. Violets kon net ’n strafskop en ’n drie in dié helfte aanteken.
VDE se voorspelers het die grondslag vir die agterspelers gelê om agter die doellyn te gaan kuier en in die eerste helfte is vier drieë gedruk. In die wedstryd is altesame ses drieë gedruk, waarvan vier deur die agterspelers en twee deur die voorspelers.
Godfrey Thomas (agtsteman) en Grant Titus (slot) was soos verlede week weer ’n handvol in die vaste fassette van die spel en is elkeen beloon met ’n drie. Hulle is goed bygestaan deur die res van die pak, wat Violets by tye oordonder het.
Die senters Colin Lombard en Marshallino Brits het die ander drieë in die eerste helfte gedruk. Leroy Ruiters (losskakel) het drie verdoel en ook met ’n strafskop geslaag.
Ná rustyd het VDE ’n bietjie laat slaplê en sy voet effens van die pedaal gelig, soos teen Noordelikes op Avonwoodpark. Die intensiteit van die wedstryd het momentum verloor en Violets het sy tweede drie gedruk om die telling 29-15 te maak. Warren de Kock (vleuel) en Brits het die voorsprong van VDE verder vergroot toe hulle ook gaan druk het. Dit was Brits se tweede drie en Ruiters het albei verdoel. Ruiters het 13 punte met die voet tot die wedstryd bygedra.
Violets het hard probeer om ’n bonuspunt aan te teken en vier drieë gedruk, maar kon in die laaste tien minute net een drie by hul telling voeg en is dus met leë hande huis toe.
Theodore Pietersen (vleuel) is met ’n rooikaart van die veld af gestuur vir ’n hoogvat, die tweede vir VDE op die dag, nadat Brian Williams (flank) van die tweede span ook vroeër die dag ná ’n vuishou gepos is. Albei is outomaties vir drie wedstryde geskors.
VDE se tweede span het vir die eerste keer punte afgestaan toe hy gelykop met 19-19 teen Violets II gespeel het. Albei VDE-spanne moet leer dat jy vir 80 minute moet speel en nie toelaat dat jou teenstanders jou insinking uitbuit en die agterstand laat krimp nie.Puntemakers:
VDE 1: Drieë: Marshallino Brits (2), Colin Lombard, Warren de Kock, Godfrey Thomas en Grant Titus (1-elk). Leroy Ruiters: 5 doelskoppe en ’n strafskop.
VDE 2: Drieë: Zibongeleni Penxa, Devan Dube en Nigel Appollis (1-elk). Appollis en Graham Davids het elk een drie verdoel.
Saterdag 5 Augustus se wedstrydbepalings: VDE vs Masiphumelele (Stellenbosch); Blakes vs Violets (Lansdowne); Atlantis vs Hamediehs (Athlone); Sir Lowrians vs Northerns (Sir Lowryspas); en Lagunya het ’n loslootjie.