VDE, Blakes wapper die vlag

Die Stellenbosch-rugbyklubs Van der Stel-Evergreens (VDE) en Blakes sal van Saterdag 23 Julie die vlag vir Stellenbosch in die Top-9-rugbykompetisie van die Westelike Provinsie-rugbyunie laat wapper.


Die Stellenbosch-rugbyklubs Van der Stel-Evergreens (VDE) en Blakes sal van Saterdag 23 Julie die vlag vir Stellenbosch in die Top-9-rugbykompetisie van die Westelike Provinsie-rugbyunie laat wapper.

Die Top-9 is ook die promosie-relegasiekompetisie wat tot en met Saterdag 24 September gehou word om te bepaal watter twee spanne in die kompetisie outomaties in 2023 in die Superliga C gaan meeding.

VDE het in die Noordelike liga onoorwonne afgesluit en net Hamediehs kon hulle dit in die Stadsliga nadoen. Blakes het in die eerste ronde net teen VDE verloor en tweede op die punteleer geëindig.

Die loting is Dinsdag (19 Julie) by die Sport-instituut in Nuweland gedoen en die ander sewe spanne wat verteenwoordig was, is Sir Lowrians, Lagunya, Noordelikes, Atlantis, Hamediehs, Masiphumelele en Violets.

Die drie spanne wat in elk van die Promosie-relegasieligas bo-aan die punteleer in hul onderskeie ligas geëindig het, het na die Top9 deurgedring.

Die drie spanne in die Suidelike- en Stadsligas is eers Saterdag 16 Julie bepaal toe die laaste ligawedstryde in hul afdelings afgehandel is om te bepaal wie by die drie spanne van die Noordelike liga sal aansluit.

Volgens Denzil Titus, klubrugby-administrateur by WP, was die loting Maandagaand net om te kyk wie jy op jou tuisveld pak.

“Die Top-9 skop eerskomende Saterdag af en eindig op Saterdag 24 September en die wenners van elk van die ligas en Top9 sal hul bekers by die WP se bekeruitdeling in Oktober ontvang. Die twee spanne wat eerste en tweede in die Top-9 eindig word outomaties gepromoveer na Superliga C. Die twee wat derde en vierde eindig, spook sake uit op ’n neutrale veld om te bepaal wie die derde span is wat van die Promosie-relegasie-kompetisie in 2023 sake in die Superliga C gaan uitspook.

“Die drie spanne wat onder eindig in Superliga C, gaan outomaties af. By Dinsdagaand se loting het spanne geloot om te bepaal wie hul teenstanders op hul tuisveld is,” sê Titus. Die uitslae van die loting was teen druktyd nog nie bekend nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.