Aldrin Greef, die losskakel van die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub, duik oor vir sy drie in die naelbytstryd teen Hands & Heart in Eikendal. VDE het die Superliga B-wedstryd met 31-29 gewen. Foto: CS Photography


Matthew Alexander, vleuel van die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub (VDE), het Saterdag (22 Junie) in ’n Superliga B-wedstryd op die Eikendal-sportterrein die harte van Hands & Heart gebreek toe hy in die doodsnikke die wendrie gedruk en VDE met 31-29 as oorwinnaars van die veld gestap het.

Die grootste gedeelte van die wedstryd moes VDE die agterstand inhaal en met drie minute oor was die telling nog 29-24 in die tuisspan se guns, met die tuisskare wat voortydig die oorwinning gevier het.

Alexander het die gaping ná ’n kort aangee gevat en tussen twee verdedigers van Hearts deurgebars vir sy drie om die telling gelykop te maak. Die VDE-vleuel Joshua Pedro het die drie verdoel om die oorwinning te verseker.

VDE is ná nege wedstryde met 38 punte in die tweede plek op die punteleer, agter UWK wat ná agt wedstryde 39 punte het. Hearts is in die derde plek met 33 punte.

VDE speel Saterdag teen Collegians op die tuisveld van Caledonian Roses in Athlone.

In ander Superliga B-wedstryde kon Kylemore ook net-net met 31-28 met Langa afreken, terwyl Franschhoek vir Vineyards met 22-20 terug Paarl toe gestuur het. Kylemore het die komende naweek ’n loslootjie, terwyl Franschhoek in Somerset-Wes teen All Saints te staan kom.

In Superliga C is Pniël Villagers teen Macassar op sy tuisveld in aksie en het nog verlede Saterdag (15 Junie) teen Gardens gespeel.

In die Noordelike liga het Stellenbosch-Coronations met 26-24 teen Albions verloor – Corries se derde nederlaag dié seisoen. Raithby Universals het ook dieselfde paadjie gestap nadat Whistling Wheels hom met 13-10 geklop het.

Excelsior het vyf punte geoes sonder om ’n voet op die veld te sit nadat Blakes hom aan die liga onttrek het.

Corries speel Saterdag teen sy buurman, Raithby Universals, in Idasvallei, terwyl Excelsior na Delft reis vir die wedstryd teen die tuisspan.

In die Suidelike liga het Blue Stars van Klapmuts vir Titans in Grassy Park met 44-12 geklop en pak Saterdag vir Peninsula tuis.

You need to be Logged In to leave a comment.