Van der Stel-Evergreens (VDE) is saam met Hamediehs gepromoveer na Superliga C nadat VDE die afgelope Saterdag (17 September) vir Atlantis met 46-17 geklop het.
Met hierdie oorwinning het VDE sy verpligtinge in die Promosieliga van die Westelike Provinsie-rugbyunie in die Top 9-kompetisie afgehandel. Die ander agt spanne speel Saterdag 1 Oktober hul laaste wedstryde.
In Atlantis het VDE se losskakel Leroy Ruiters die besoekers se telling met ’n strafskop geopen. Daarna is drie drieë deur Warren de Kock (vleuel), Godfrey Thomas (agtsteman) en Ashwin Dube gedruk.
Kort voor rustyd het Atlantis sy eerste drie gedruk, maar VDE het sy voorsprong vergroot toe Chadlee Lakay gaan druk en Ruiters verdoel het om die rustydtelling 29-5 te maak.
Ná rustyd het Atlantis eerste bloed geruik en gaan druk om die agterstand te laat krimp. VDE het toe geantwoord met ’n drie deur Lorenzo Claassen (vleuel) wat die beseerde De Kock vervang het en Ruiters kon nie verdoel nie. Atlantis het toe sy tweede drie gedruk, nadat hulle VDE aan die slaap betrap het ná die afskop.
Die flank Brian Williams en Thomas het toe VDE se telling verder vergroot met hul drieë en Ruiters kon net een verdoel om die eindtelling 46-17 te maak.
In die dag se ander wedstryde: Blakes het gehoop om as oorwinnaars van Athlone terug te keer, maar Hamediehs was te sterk en het hulle met 28-18 geklop. Violets het ’n loslootjie gehad en Masiphumelele het korte mette gemaak met Noordelikes en met 27-10 gewen. Sir Lowrians het op sy tuisveld vir Lagunya met 31-27 geklop.
VDE en Hamediehs het outomaties gekwalifiseer vir promosie nadat hulle in posisie een en twee op die punteleer geëindig het.
Alle oë sal egter Saterdag 1 Oktober op die uitslae wees van die drie spanne wat elk op 19 punte lê, want een van hulle sal Saterdag 8 Oktober teen Masiphumelele moet uitspeel op ’n neutrale veld om te bepaal wie saam met Hamediehs en VDE in Superliga C in 2023 gaan speel. Masiphumelele het by die agterdeur ingesluip en wag om te kyk teen wie hulle moet uitspeel.
Blakes speel 1 Oktober teen Sir Lowrians in Cloetesville, terwyl Violets ’n afspraak het met Lagunya op Chukkerweg in Lansdowne. Masiphumelele reis na Atlantis vir sy laaste kragmeting en sal sy voorsprong op die ander drie wil vergroot om met vyf punte uit Atlantis terug te keer om op 29 punte te eindig.
Die drie spanne op 19 punte sal alles in hul vermoë doen om die vierde span te word wat teen Masiphumelele moet uitspeel, want hulle sien nie kans om in 2023 weer in die “begrafnisligas” – Noordelikes, Suidelikes en Stad – te speel nie.
Alle oë sal dus Saterdag 1 Oktober op die uitslae van Blakes, Sir Lowrians en Violets wees, vir ’n kans om Superliga C te speel. Hamediehs ontvang besoek van Noordelikes, wat nog geen wedstryde vanjaar kon wen nie. Geen Promosieligawedstryde word hierdie Saterdag (24 September) gespeel nie.