Die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub (VDE) speel Saterdag (2 Maart) sy eerste vriendskaplike wedstryd teen die Hands & Heart-rugbyklub in Kraaifontein ter voorbereiding van sy ligaverpligtinge in Superliga B vanjaar.
Die afgelope ses weke is klem gelê op fiksheid en vaardighede en die naweek sal dié vaardighede op die veld beproef word.
Die ander vriendskaplike wedstryde vir Maart is geskeduleer teen Riverstones van Paarl (Saterdag 16 Maart) en teen Pniël Villagers (Saterdag 23 Maart). Albei is wegwedstryde.
Vanjaar ding VDE in Superliga B mee teen spanne soos Hamlets van Mamre, Hands & Heart, Langa, Strand, Bellville, Kraaifontein, Hamediehs, Vineyards, Collegians, UWK, Belhar, Kylemore, All Saints en Franschhoek, en sy ligaverpligtinge begin Saterdag 20 April teen Hamlets op sy tuisveld.
Superliga B is die kompetisie wat vanjaar fyn dopgehou gaan word, want net een ronde word gespeel, met die twee top-spanne wat outomaties vir die halfeindstryd kwalifiseer. Spanne in posisies drie tot ses sal gewikkel wees in kwarteindstryde en die twee wenners sal dan teen die twee bestes in die halfeindstryde kragte meet om te bepaal wie na Superliga A opskuif.
VDE is net vertroud met die spel van Hamediehs en Kraaifontein en sal sy wedstrydplanne vir die ander spanne mooi moet uitwerk. Hamediehs en VDE se paadjies loop die afgelope drie jaar saam en tans loop Hamediehs 2-1 voor in sy kragmetings. Albei is ook die buiteperde in Superliga B en die ander spanne sal hulle teiken omdat hulle die nuwelinge is.
Franschhoek maak die afgelope drie jaar korte mette in Superliga B, maar wanneer die laaste hekkie oorgesteek moet word, val hulle vas en beland dan weer in dieselfde liga. Dit is een van die twee derby’s wat VDE speel. Sy ander buurspan is Kylemore, teen wie die Stellenbossers die afgelope twee jaar vriendskaplike wedstryde gespeel het.
Wanneer die liga begin, sal daar egter geen sprake wees van buurmanskap op die veld nie, want al die spanne wil in 2025 na Superliga A opskuif.
VDE het die afgelope drie jaar uit die sones tot in Superliga B gevorder onder die afrigting van Alastair Siegelaar, ’n voormalige skrumskakel van die Westelike Provinsie en die Lions. Hy het vanjaar versterkings van Kraaifontein en Kuilsrivier ingebring om VDE weer ’n krag in die kompetisie te maak.
VDE se bestuur is op die jaarvergadering in Januarie ook onbestrede herkies – ’n bewys dat die klub onder die voorsitterskap van Charles Williams junior met die hulp van sy ander bestuurslede gedy.