Van der Stel-Evergreens (VDE) het wel sy doelwit van promosie na Superliga B bereik, maar in die wedstryd om as Superliga-C-kampioen gekroon te word, is dié span met 36-7 deur Hamediehs op City Park in Athlone verneder.
Die les wat die Stellenbossers geleer het, is dat ’n eindstryd altyd ’n eindstryd bly en jy met jou beste span begin. Ander spelers kan deur die loop van die wedstryd van die bank af speelkans kry, maar jy kan ook nie verwag dat die plaasvervangers in vyf minute die getjommel of agterstand moet kom regmaak nie.
Die VDE-kaptein, Bronwyn Gurrah, het ná die wedstryd gesê hy glo VDE het ’n goeie jaar gehad.
“Ons doel was om in 2024 in Superliga-B te kan speel, en daardie doel is bereik. Dit sou baie lekker gewees het om die beker as Superliga-C-kampioene te kon verower, aangesien ons eerste op die punteleer voor Macassar geëindig het. Dit was VDE se eerste jaar in Superliga-C en ons sien uit na wat vir ons in Superliga-B wag,” het hy gesê.
VDE het tot rustyd goeie rekenskap van homself in winderige omstandighede gegee, maar het nie die wind agter sy blad oordeelkundig gebruik nie.
VDE het nie na die kantlyn geskop om Hamediehs op die agtervoet te hou nie, maar verkies om uit sy doelgebied te hardloop.
Op die dag het Hamediehs met ’n plan gekom om alles voor hom gelyk te maak, en dis presies wat gebeur het. Die span het met meer passie gespeel, ingedons by losgemale, los balle opgeraap en tot sy voordeel gebruik.
Sy vorige ervaring in Superliga-B het hom ook deurgedra en dis hoekom hy as wenner en kampioen van die veld af is. Charles Williams, VDE se erepresident en voormalige voorsitter, het by navraag gesê as hy vanjaar sou opsom, kan hy nie anders as om VDE ’n klop op die skouer te gee nie.
“Dít wat VDE in twee jaar bereik het – om uit die sones te vorder tot in Superliga-B – wil gedoen wees.
Só ’n prestasie kan alleenlik toegeskryf word aan die harde werk van Charles Williams jr. en sy bestuur, asook Alastair Siegelaar en sy afrigtingspan, van o.20’s tot op senior vlak. Klublede en getroue ondersteuners het gewys hulle glo in die span deur elke wedstryd die afgelope twee jaar by te woon en die klub se sukses is ook hulle s’n,” het Williams gesê.
VDE is in 2017 gestig toe Evergreens van Vlottenburg en Van der Stel saamgesmelt het, met Evergreens wat ’n geskiedenis van meer as 100 jaar het.
“Die grondslag vir VDE se sukses is by die samesmelting gelê, toe rugby en spelers eerste gestel is en ego’s of eie-ek nie plek gehad het nie. Ek is baie trots op wat die klub bereik het en sien uit na wat in Superliga-B gaan gebeur.
“In die eindstryd het VDE verkeerde taktiek gebruik en nie genoeg punte in die eerste helfte met die wind van agter op die telbord gesit nie,” het Williams gesê.
Hopelik het VDE uit vanjaar se foute in sy voorbereiding vir die nuwe seisoen geleer.
Spanne bly gewoonlik drie tot vyf jaar in ’n liga, maar VDE het gewys jy kan in jou eerste jaar met die ervare spanne in jou liga afreken, op pad na die volgende trappie op die suksesleer.
Die afgelope naweek is Maties as die kampioen van Superliga-A en SK-Walmers as die kampioen van Superliga-B gekroon.