Die rugbyklub Van der Stel-Evergreens (VDE) het sy nederlaag teen Hamediehs afgeskud en Lagunya die afgelope Saterdag (27 Augustus) in Nyanga 47-12 afgeransel.
VDE is dus steeds die voorloper met twee punte teenoor Hamediehs, maar laasgenoemde het een wedstryd minder gespeel.
In die eerste helfte het Lagunya goeie rekenskap gegee en nie toegelaat dat VDE oor hom loop nie. VDE kon slegs twee drieë in die eerste helfte aanteken en het 14-0 voorgeloop voordat Lagunya net voor rustyd ’n verdoelde drie aangeteken het, wat die rustydtelling 14-7 gemaak het.
Die agtsteman, Godfrey Thomas, het soos gewoonlik die rekening vir VDE geopen toe hy agter die doellyn gaan kuier het. Leroy Ruiters (losskakel) het die drie verdoel. Die vleuel Warren de Kock het ook gaan druk en Ruiters het verdoel.
Ná rustyd het VDE die krane oopgedraai en Ashwin Dube (heelagter), Lorenzo Claassen (vleuel), Marshallino Brits (senter) en die plaasvervangers Theodore Pietersen (vleuel) en Fabian Adonis (flank) het gaan druk. Ruiters het telkeverdoel.
Die VDE-voorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê en goeie samespel tussen die voor- en agterspelers het tot die drieë in die tweede helfte gelei.
In die lynstane het Franco Smith (haker) nie altyd sy springers Grant Titus (flank) en Selwyn Ruiters (slot en kaptein) gevind nie en hy is deur Granthem van Aswegen vervang. Daarna het VDE ook die lynstane begin oorheers en die agterspelers het afgerond.
Lagunya kon nie al die gate op die veld toestop nie en die telbord het gereeld aangerol. Volgens sy hulpafrigter, Mongezi Melane, het hy geweet hulle het ’n strawwe wedstryd om te verwag.
“Die meeste van my spelers is jonk en speel die eerste keer in die eerste span. Ons het wel die Stadsliga gewen en in die ligakompetisie met die ander twee spanne, Atlantis en Noordelikes, afgereken, maar die ander ses spanne was onbekend aan ons. Tot dusver het ons vier wedstryde gespeel – een gelykop en drie verloor. Ons soek Saterdag in Elsiesrivier volpunte teen Noordelikes, want ons het hulle in die ligakompetisie geklop,” het hy gesê.
In die laaste kwartier het Lagunya ’n onverdoelde drie aangeteken, wat die telling op 47-12 te staan gebring het.
Hamediehs het Sir Lowrians in Sir Lowrys Pass naelskraaps 28-23 geklop, terwyl Blakes 25-15 met Atlantis afgereken het. Masiphumelele het die verrassing van die naweek opgelewer toe hy Violets, een van die aanspraakmakers op die Top 9-titel, 22-19 geklop het.
Noordelikes het ’n loslootjie gehad en sal Saterdag weer in aksie teen Lagunya in Elsiesrivier wees.. Wedstrydbepalings vir Saterdag (3 September): Noordelikes vs Lagunya (Elsiesrivier); Violets vs Atlantis (Lansdowne); Masiphumelele vs Hamediehs (Noordhoek) en Van der Stel-Evergreens vs Sir Lowrians (Stellenbosch). Blakes geniet ’n loslootjie.