VDE vereer spelers ná geskiedkundige jaar

Die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub (VDE) het Saterdag (26 Oktober) sy bekeruitdeling in die Van der Stel-saal by die Bergzicht-sportveld gehou en sy beste spelers vereer.


Die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub (VDE) het Saterdag (26 Oktober) sy bekeruitdeling in die Van der Stel-saal by die Bergzicht-sportveld gehou en sy beste spelers vereer.

In die klub se sewejarige bestaan het hy gevorder van die Noordelike Liga tot in Superliga A, en is ná 20 jaar die tweede span van Stellenbosch wat in 2025 in Superliga A gaan speel. Maties is die ander span wat Stellenbosch se naam in die liga hoog sal moet hou.

Die gasspreker was dr. Leslie Siegelaar, dosent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT). Hy het in sy toespraak die klub met ’n arend vergelyk en gesê as arende oud word, het hulle ’n keuse, naamlik om dood te gaan of te vernuwe.

Die simboliek hieragter was dat VDE hoog gaan vlieg in 2025 in Superliga A. Die klub sal volgens hom blootgestel word aan opbouende en afbrekende kritiek. Die klub moet hom ook nie aan die kritiek van “onbelangrike” mense steur nie, maar vernuwing (nuwe spelers en sy afrigtingspan) omhels.

Die klub is volgens hom nie in Superliga A om getalle vol te maak nie, maar omdat VDE verdien om daar te speel.

Hy het ook wyle prof. Russel Botman, die eerste bruin rektor by die Universiteit Stellenbosch, aangehaal, wat in sy toespraak by die aanvaarding van sy rektorskap gesê het dat die plaaseienaar se kind en die plaasarbeider se kind gelyke kanse by die universiteit moet kry. Dit was ook Siegelaar se hoop dat spelers wat in 2025 hul gewig by VDE gaan ingooi dieselfde kans, ongeag ras, moet kry om die klub op die rugbyveld te verteenwoordig.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.