Die rugbyklubs Van der Stel-Evergreens (VDE) en Blakes het die afgelope Saterdag besef dat geeneen van die ander spanne in die Top-9 van die Promosie-relegasiekompetisie jou gunsies gaan bewys vir ’n sege nie. Jy sal moet speel om jou punte te verdien.
VDE het sy veldtog teen Noordelikes op Avonwoodpark in Elsiesrivier afgeskop en met 39-22 gewen, terwyl Blakes in Cloetesville vir Masiphumelele met 24-7 geklop het.
VDE 1 het vroeg in die eerste helfte gesukkel om aan die gang te kom en toegelaat dat Noordelikes die voortou neem met ’n strafskop en ’n vinnige drie wat verdoel is. Aanvanklik was daar van samespel geen sprake nie en dit was duidelik die blaaskans tussen die eerste ronde en die Top-9 het die VDE-spelers laks gemaak. Die twee drieë het VDE laat wakker skrik en die pak het stadig beheer oorgeneem en momentum begin opbou. Leroy Ruiters (losskakel) het die agterstand laat krimp toe hy twee strafskoppe oorgeklits het om die telling 10-6 te maak.
VDE se Grant Titus (slot) het nie net sy werk in die lynstane gedoen nie, maar het by tye soos ’n wafferse agterspeler in die agterlyn gespring. Hy is ook agterna as die speler van die wedstryd aangewys. Titus is goed bygestaan deur Godfrey Thomas (agtsteman) om VDE oor die voordeellyn te hou en Thomas het die eerste van sy twee drieë in die eerste helfte gedruk. Jerano Williams (stut) het ook agter die doellyn gaan kuier en Ruiters het ’n strafdoel oorgeklits om die rustydtelling 22-10 in VDE se guns te maak.
Ná rustyd het Lorenzo Claassen (vleuel) en Ashwin Dube (heelagter) vir VDE gaan druk, albei drieë is deur Ruiters verdoel om die telling 36-10 te maak.
Noordelikes het ’n strafdrie gekry nadat hulle op VDE se doellyn geboer het en het in die laaste tien minute nog ’n drie aangeteken om die telling 36-22 te maak. Ruiters het VDE se telling verder opgestoot toe hy met ’n strafskop geslaag het om die eindtelling 39-22 te maak.
VDE 2 het korte mette met Noordelikes 2 gemaak en nie die tuisspan toegelaat om enige punte aan te teken nie. VDE se voor- en agterspelers het baljaar en klokslag agter die pale gaan kuier. Die bonuspunt is in die eerste helfte verseël en daarna is die bal lustig deur die Stellenbossers rondgegooi. Die eindtelling was 36-0 in VDE se guns.
Die puntemakers:
VDE 1: Drieë: Godfrey “Rantie” Thomas 2, Ashwin Dube 1, Jerano Williams 1, Lorenzo Claassen 1.
Leroy Ruiters het met 2 strafskoppe en 4 doelskoppe geslaag.
VDE 2: Drieë: Devan Dube 1, Duane Festus 1, Graham “Ham” Davids 1, Albert Hensen 1, Sergio Maloy 1.
Nigel Appollis het met 1 strafskop en 3 doelskoppe geslaag.
Blakes: Jemma Adams en Keaton Peterson het elk ’n drie gedruk terwyl Athon Arnold met 3 strafskoppe, ’n skepskop en 2 doelskoppe geslaag het.