Wetenskaplike, musiek­kenner, skrynwerker en dokter was net ván die veelsydige dr. Johan de Kock se talente.

De Kock (95) is Dinsdag 27 Februarie rustig in sy slaap oorlede.

Hy is oorspronklik van De Doorns en het in 1947 as eerstejaarstudent na Stellenbosch gekom.

De Kock was tussen 1956 en 1992 dosent in dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Hy het tussenin vir twee jaar en ses maande in Potchefstroom klasgegee en het dus altesaam 75 jaar in Stellenbosch gewoon – die laaste 50 jaar in Dalsig.

Dit was nie net in die lesingsaal alleen waar De Kock ’n verskil gemaak het nie. Hy het ’n groot rol in die gemeenskap gespeel.

Hy was vir 25 jaar lid van die Stellenbosch-kunswedstrydvereniging. Hy was onder meer sekretaris, tesourier en voorsitter van die komitee.

De Kock was die laaste 20 jaar – tot sy dood – ook ere-president van hierdie instelling.

By die US was hy jare lank voorsitter van die eksamenkomitee.

Destyds moes dié se papierwerk sonder rekenaars gedoen word en elke enkele student se eksamenuitslag moes met die hand oorgeskryf word.

Mense wat saam met hom in hierdie komitee gedien het sowel as kollegas by soölogie het melding gemaak van sy presiesheid en netjiese handskrif.

Sy familie meen hy was buitengewoon veelsydig en het sy passie vir onder meer wetenskap, musiek en letterkunde, skrynwerk, pottebakkery en soveel meer uitgeleef.

Hy word oorleef deur sy vrou, Cornelia, drie kinders, Johan, Corlie en Annemarie, asook drie kleinkinders, Chris, Annika en Juliette.

You need to be Logged In to leave a comment.