Veiligheidstrategie vir Simondium aan boeregemeenskap voorgelê

Die Stellenbosch-tak van AfriForum het sy nuwe landelike veiligheidstrategie verlede Dinsdag (20 September) aan die boeregemeenskap van Simondium voorgelê.


Die Stellenbosch-tak van AfriForum het sy nuwe landelike veiligheidstrategie verlede Dinsdag (20 September) aan die boeregemeenskap van Simondium voorgelê.

In dié aanbiedding het Jac Pietersen, Tommy van Zyl en Bernard Pieters – al drie verbonde aan die Kaapstad-kantoor van AfriForum – oor die nuwe veiligheidsplan uitgebrei asook hoe die Simondium-gemeenskap daarby kan inskakel.

“Ek glo die Simondium-gemeenskap en die polisielede wat teenwoordig was, is beïndruk met die plan en die potensiaal daarvan. Dít wat ons hier wil regkry, sal ’n eerste in Suid-Afrika wees. Die ondersteuning van ons gemeenskappe en netwerkvennote is van kardinale belang vir die geslaagdheid en implimentering hiervan,” het Pietersen, die Stellenbosch-tak se voorsitter vir gemeenskapsveiligheid, gesê.

Volgens Pieters is AfriForum se benadering om gemeenskappe en bestaande strukture deur middel van goeie samewerkende ooreenkomste te versterk. “Tradisionele veiligheidstrukture, wat ’n gebied patrolleer, sal altyd ’n plek hê, maar ’n goed gestruktureerde en georganiseerde inligtingstelsel wat gemeenskappe met mekaar verbind en ondersteun, is noodsaaklik vir sukses in ons landelike gemeenskappe,” het hy gesê.

“Die AfriForum-veiligheidsgordelplan is onlangs in Stellenbosch bekendgestel en het met ’n geldinsamelingsgeleentheid gepaard gegaan. Ná die saamtrek is die eerste hommeltuig vir die AfriForum-tak in Stellenbosch bestel en ons is besig om nog een te koop.”

AfriForum het reeds twee geakkrediteerde hommeltuig-vlieëniers vir die Stellenbosch-omgewing en twee in die Simondium-omgewing opgelei.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.