Die bestryding van brande rus op almal se skouers.
Dít was die algemene boodskap wat Vrydag 13 Oktober by die bekendstelling van die jaarlikse brand-bewusmakingsveldtog deur Working on Fire (WoF), die provinsiale rampbestuur en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, uitgestuur is. Die inisiatief is by die Van der Stel-sportterrein in Stellenbosch aangebied en dien as ’n proaktiewe poging om vir die komende besige brandseisoen voor te berei.
Die geleentheid mik ook om bewustheid te skep oor die belangrikheid van brandvoorkoming en -veiligheid binne gemeenskappe en skole in gebiede waar brande geneig is om te gebeur en in die stedelike koppelvlak van die Wes-Kaap.
Die besluit om die bekendstelling in die Kaapse Wynlandstreek aan te bied, is ’n direkte reaksie op die kommerwekkende aantal brande wat tydens die vorige brandseisoen in dié streek aangemeld is. Die veldtog beoog om plaaslike gemeenskappe te bemagtig om voorkomende maatreëls teen veldbrande in te stel deur middel van ’n reeks opvoedkundige aktiwiteite en werksessies.
Etienne du Toit, die adjunkdirekteur van brand- en reddingsdienste in die provinsiale departement van plaaslike regering, het in sy toespraak beklemtoon dit is noodsaaklik om tussen “goeie brande” en “slegte brande”, wat skade en sterftes veroorsaak, te onderskei.
Hy het daarop gewys dat die veldtog se sentrale boodskap “Brande is almal se stryd” die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid by brandvoorkoming beklemtoon.
Die provinsiale regering het verskeie brandveiligheidsprogramme ontwikkel met boodskappe wat kinders sowel as volwassenes teiken, het Du Toit verder verduidelik.
“Sterftes in brande is geneig om hoofsaaklik onder mans van 18 tot 35 jaar voor te kom, wat ’n groter risiko het,” het hy gesê.
“As gevolg van die sosiaal-ekonomiese omstandighede leef baie Suid-Afrikaners in armoede en maak hulle staat op oop vlamme en onwettige kragverbindings om te kook, wat hulle besonder kwesbaar maak. Die doel van die bewusmakingsprogramme is om hierdie spesifieke uitdagings aan te pak.”
Rayganah Rhoda, gemeenskapsbrandbewustheidsbeampte by WoF, het gepraat oor die samewerkende aard van die veldtog, wat alle belanghebbendes en entiteite wat daartoe verbind is om bewustheidsboodskappe in gemeenskappe en skole te versprei, bymekaarbring.
Volgens Rhoda is die kernboodskap “Brande is almal se stryd”.
Die veldtog maan gemeenskappe om brande dadelik aan te meld om reaksietye te verminder en gemeenskapslede, veral kinders, op te voed oor veilige ontruimingsprosedures tydens ’n brand.
Die bekendstelling is die begin van ’n uitgebreide poging om ’n brandbestande provinsie te skep. Deur die “Brand is almal se stryd”-boodskap te versprei, hoop die organiseerders om ’n gevoel van gedeelde verantwoordelikheid en gemeenskapsoptrede teen veldbrande te bevorder.
Die beplande aktiwiteite, insluitend werksessies en gemeenskaps-uitreikprogramme, is ontwikkel om inwoners toe te rus met die kennis en gereedskap om hulself en hul gemeenskappe teen die verwoestende gevolge van brande te beskerm.
Die organisasies, wat deel van die bekendstelling was, is CapeNature, die Kaapse Wynland-brandbeskermingsverenigings, plaaslike munisipaliteite in die Kaapse Wynland, Volunteer Wildfire Services en baie meer.