Die werk wat veldwagters vir bewaring doen, word toenemend veeleisend – en dikwels gevaarlik. Veldwagters moet stropers konfronteer en die elemente trotseer, en stel dikwels hul lewe in gevaar in die uitoefening van hul pligte.

Wêreld-veldwagterdag word jaarliks op 31 Julie gevier om hul belangrike bydrae tot bewaring te erken en hulle vir hul dapperheid en toewyding te eer. Hulde word ook gebring aan diegene wat in die uitvoering van hul pligte gesterf het of beseer is.

Om Wêreld-veldwagterdag 2022 te vier, bied die SANParke-ereveldwagters, die amptelike vrywilligerorganisasie van SANParke, ’n virtuele geleentheid in samewerking met internasionale bewaringsorganisasies aan.

Die doel van die geleentheid is om die verhale van veldwagters in verskeie lande oor die wêreld heen te deel, om bewusmaking te skep van wat dit verg om ’n veldwagter te wees, en om erkenning te gee aan die uitsonderlike werk wat hulle doen.

Organisasies wat bydraes lewer, sluit in SANParke, die Game Rangers Association of Africa, die National Park Service van Amerika, die Vredesparke-stigting, WWF Suid-Afrika (in vennootskap met USAID) en die span van SANParke SEAM (see, lug en berge).

Die program word afgesluit met ’n kersligseremonie gelei deur dr. Nicholus Funda, SANParke se hoofbestuurder vir gebiedsintegriteit, waarin hulde gebring word aan hulle wat die hoogste prys in die uitvoering van hul pligte as veldwagter betaal het.

Die seminaar kan Saterdag 30 Julie om 14:00 via Zoom bygewoon word en sal regstreeks op die SANParke-ereveldwagters se Facebookblad (SANParksHonoraryRangers) gestroom word.

Skenkings deur die publiek sal toegewys word aan Project Embrace, wat daarop gemik is om programme en strukture te verskaf wat die welstand en veerkragtigheid van veldwagters ondersteun.

Nog inligting is beskikbaar by https://www.sanparksvolunteers.org/project-embrace/.. Wêreld-veldwagterdag is ’n inisiatief van die International Ranger Federation, wat saam met The Thin Green Foundation bevorder word.

You need to be Logged In to leave a comment.