Paul Roos Gimnasium (PRG) en die Atterbury-stigting, wat deur die Atterbury Trust bestuur word, het ‘n samewerkingsooreenkoms aangekondig wat wat ten doel het om talentvolle en finansieel behoeftige leerders te ondersteun.
Die vennootskap sal die sinergie tussen die gerespekteerde organisasies tot voordeel van hul onderskeie hoërskoolbeursprogramme, leerders, PRG en die gemeenskap benut.
Die samewerking sal fokus op die identifisering, werwing en assessering van laerskool-leerders wat aan beide PRG en die Atterbury-stigting se moedertaal-ontwikkelings-inisiatief (MOI) se vereistes voldoen. Dit sluit in die gebruik van die MOI se beproefde psigometriese assesserings- en aansoekproses vir die keuring van kandidate, asook akademiese hulpverlening deur toegang tot Atterbury Trust se beursstudente en studieleiers, waar relevant.
Verder sal koördinasie plaas- vind rakende mentorskap- ondersteuning en persoonlike welstandsprogramme tussen PRG se mentors en MOI-koördineerders.
“Ons is verheug oor die nuwe samewerkingsooreenkoms tussen die Atterbury-stigting en PRG Trust,” sê Zahn Hulme van Atterbury Trust.
“Die gedeelde waardes en doelstellings tussen ons verseker dat hierdie ooreenkoms van langtermynwaarde vir albei partye is, en – nog belangriker – vir die leerders wat ons ondersteun.”
Hendrik Pfaff, direkteur van PRG Trust, voeg by: “Deur hierdie vennootskap kan ons pogings versterk om talentvolle jong leiers uit minderbevoorregte gemeenskappe te identifiseer en te ondersteun. Só kan ons hulle die geleentheid bied om hul volle potensiaal by PRG te bereik.”
Ná die formele ondertekening van die samewerkingsooreenkoms word spesifieke planne en stappe beplan vir implementasie om die inisiatief prakties suksesvol te laat verloop.