Maak seker jy leer vandeesmaand meer oor jou verbruikersregte en -verantwoordelikhede.Foto ter illustrasie


Maart is nie net jou Menseregtemaand nie, maar dien ook as ‘n toegewyde verbruikersverwante, opvoedkundige en bewusmakingstydperk soos uitgelig deur die Nasionale Kredietreguleerder (NKR), die Kredietombud en verskeie organisasies.

“Verbruikersregte volgens die Nasionale Kredietwet is immers ’n wesenlike deel van jou breër menseregte, maar dit is ewe belangrik om te weet waarop jy geregtig is en wat jou verantwoordelikhede is wanneer dit by jou kredietooreenkomste kom,” verduidelik Wikus Olivier, besturende direkteur by CreditSmart Finansiële Dienste.

“Onthou, net omdat jy ’n sekere verbruikersreg het of daarvan bewus is, beteken nie jy moet dit ‘oorbenut’ nie. As jy byvoorbeeld meer skuld aangaan en jy weet jy kan dit eintlik geensins bekostig nie, plaas jy jouself in ’n moeilike situasie.”

Hier is ‘n paar belangrike verbruikersregte en -verantwoordelikhede om in gedagte te hou rakende kredietverwante verpligtinge:

Jy het die reg om:

  • Aansoek te doen om krediet.
  • Inligting te ontvang in eenvoudige en verstaanbare taal asook ’n amptelike landstaal wat jy kan lees en verstaan.
  • In kennis gestel te word wanneer jou kredietaansoek goedgekeur of geweier is, en indien jou aansoek verwerp sou wees, verwittig te word van die rede hoekom jou aansoek onsuksesvol was.
  • Indien jou kredietaansoek byvoorbeeld afgekeur sou word weens jou kredietprofiel of jou krediettelling, kan jy die nodige kontakbesonderhede en inligting van die kredietburo aanvra om ’n dispuut aan te teken. Let wel, die kredietburo het 20 wersksdae om jou navraag op te los.
  • Die openbaarmaking van inligting. Moenie ’n leë (geen inhoud op ‘n dokument) kredietooreenkoms onderteken nie en voordat jy instem en besluit om ’n kontrak te teken, vra vir ’n voorafooreenkoms (bindend vir vyf werksdae). Hierdie kwotasie moet die bedrag wat geleen moet word, rentebedrag, depositobedrag, terugbetalingstydperk, enige bykomende kostes aandui, om slegs ’n paar uit te lig.
  • ’n Voorafkwotasie kan jou help om beter rentekoerse te kry of kwotasies te vergelyk en ‘rond te kyk’ vir beter geleenthede. Suid-Afrikaanse verbruikers is al te dankbaar om die eerste aanbod te gryp wat hulle kan kry, terwyl hulle heel moontlik ’n beter prys van ’n ander geregistreerde verskaffer kon ontvang het.
  • Die vertroulike behandeling van jou persoonlike inligting. Kredietverskaffers moet kliëntinligting wat gehou word, vertroulik hanteer en kan slegs jou inligting gebruik vir die doel waarvoor dit gegee is.
  • Volgens wet is elke Suid-Afrikaner elke jaar geregtig op ’n gratis kredietverslag via ’n geregistreerde kredietburo en verkeerde inligting kan uitgedaag word wanneer nodig. VeriCred (VCCB), TransUnion, Consumer Profile Bureau (CPB), Xpert Decision Systems – XDS (via die Splendi-platform) of Experian is onder andere betroubare “primêre kredietburo’s”.
  • Sê “nee” vir roekelose geldleenpraktyke. Kredietverskaffers moet by behoorlike bekostigbaarheidbeoordeling-riglyne hou ten tyde van jou kredietaansoek.. Onderhandel met jou kredietverskaffers wanneer jy sukkel om tred te hou met jou betalings. Of, soek professionele bystand en doen aansoek vir die NKR-aanbevole program, genaamd Skuldberading/-hersiening.

Verbruikers het egter nie regte sonder verantwoordelikhede nie. Hier is belangrike verantwoordelikhede wat jy as kredietaktiewe verbruiker moet nakom:

  • Maak slegs gebruik van kredietverskaffers wat by die NKR geregistreer is. Moet nooit jou bankkaart, identiteitsdokument of bank-PIN by kredietverskaffers los nie.
  • Verseker ’n volledige en eerlike finansiële openbaarmaking wanneer jy om nuwe krediet aansoek doen. En wees eerlik met jouself – doen ’n bietjie ekstra huiswerk om seker te maak jy werklik ’n nuwe finansiële verpligting kan bekostig.
  • Hou by jou maandelikse betalings soos ooreengekom/betaal elke maand jou balans ten volle, vermy onnodige skuld, en gebruik krediet verstandig om ’n positiewe kredietgeskiedenis op te bou.
  • Wanneer jy besef dat jy nie jou maandelikse verpligtinge sal kan nakom nie, kontak jou kredietverskaffer om onmiddellik te probeer onderhandel om betalings te “herreël”.
  • Wanneer skuldberading as ’n skuldverligtingsmaatreël oorweeg word, onthou dat jy steeds aanspreeklik is om jou skuld te betaal. Kommunikeer gereeld met jou skuldberader en hou by jou nuwe herstruktureerde betalingsplan.

“Bemagtig jouself deur jou verbruikersregte te verstaan en maak ook seker dat jy jou kredietooreenkoms-verantwoordelikhede nakom vir ’n veilige finansiële toekoms,” maan Olivier.

You need to be Logged In to leave a comment.