TygerBurger

Verdagte steeds op vrye voet ná nagmerrie-rit vrou getraumatiseerd laat

Denusha Nicholas

Die verdagte Uber-bestuurder wat betrek word by die voorval waarin ’n jong vrou van Kuilsrivier uit sy bewegende motor gespring het omdat sy bedreig gevoel het, is nog op vrye voet.

TygerBurger het vroeër berig oor Denusha Nicholas (26), ’n onderwyseres by Laerskool Vlottenburg in Stellenbosch, se nagmerrie-rit.

Die voorval het op Donderdag 28 Augustus omstreeks 15:26 op die Polkadraaipad plaasgevind — in die Stellenbosch-polisieëringsgebied.

Kapt. Nathalie Martin, woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, het bevestig dat speurders van Stellenbosch besig is om die saak van poging tot ontvoering te ondersoek. Volgens Martin is die saak op Maandag 1 September van die Kuilsrivier-polisie (waar Nicholas die klagte ingedien het) na Stellenbosch oorgeplaas.

Lt.kol Malcolm Potje, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die ondersoekbeampte het op Dinsdag 2 September met Nicholas opgevolg en is tans druk besig om die verdagte bestuurder te probeer opspoor.

“ ’n Nuwe saaknommer is aan die klaagster (Nicholas) deurgestuur.” sê Potje.

Denusha Nicholas (26) kort ná haar nagmerrie-rit in die hospitaal.

Nicholas het by navraag bevestig dat sy wel gister die nuwe saaknommer ontvang het en dat speurders van Stellenbosch-polisie haar besoek het.

Potje sê alle leidrade word opgevolg om die saak op te los.

Die polisie rig ‘n versoek aan enigeen met inligting om die ondersoekbeampte, AO Dean Fibiger te skakel by 083 293 1913 of die Stop Misdaad-nommer: 08600 10111. Inligting kan ook anoniem op die MySAPS-toepassing gedeel word.

TygerBurger het aanvanklik berig dat Lt.kol Nokwanda Harmans, waarnemende bevelvoerder van Kuilsrivier-polisie, bevestig het dat ‘n klagte van poging tot ontvoering in Kuilsrivier aangemeld is en na Stellenbosch oorgeplaas is. Harmans het bygevoeg dat Stellenbosch-polisie aangedui het dat die saak op Maandag 1 September na Klapmuts-polisie oorgeplaas is, aangesien dit “nie in hul polisiëringsgebied val nie”.

Potje het dit egter duidelik gemaak dat die dossier nooit na Klapmuts gestuur is nie.

TygerBurger het intussen verneem dat ’n klerk by Kuilsrivier-polisie verkeerde inligting aan Harmans oorgedra het — inligting wat op ’n ander dossier betrekking gehad het, wat wél vir Klapmuts bestem was.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article