Die 2023-begroting raak die lewe van verskillende mense op verskillende maniere.

Ek dink in besonder aan ons senior burgers.

“Luister asseblief na die begroting en laat my weet hoeveel verhoging ons op ons pensioene gaan kry, want die krag by ons is af,” het ’n tannie gevra.

Ná die begrotingsrede laat weet ek haar “R20”. Nodeloos om te sê hoe en wat haar reaksie was.

Is dit wat ons senior burgers werd is? Kinders kry nie eens R20 meer nie, maar R50 en meer. Is dit waarvoor ons oupas, oumas, ma’s en pa’s hulle afgesloof het?

Ek wonder hoe oudpresident Nelson Mandela sou gevoel het – daar waar hy op die bruin R20-noot pryk!

Lewenskoste is astronomies. Geen wonder ’n ander senior burger het opgemerk: “Toe ek jonk was, kon ons die kruideniersware in sakke pak en die geld in ons beursies. Nou moet ons die geld in die sakke pak en die min kruideniersware in ons beursies.”

Toenemend is daar ’n klop aan die deur vir ’n stukkie brood. Ons moet weer gaan lees wat Mattheus 25 vers 21-46 sê.

Dit is skrikwekkend dat ons senior burgers met ’n verhoging van R20 moet klaarkom.


Ds. Simon Adams,

Idasvallei

You need to be Logged In to leave a comment.