Mense wat op soek is na ’n avontuur, word genooi om in te skryf vir die Camino van die Sandsteenkerke, wat van Vrydag 25 April tot Vrydag 2 Mei in die Klein Karoo plaasvind.
Die staptoer is ’n unieke pelgrimstog wat oor 120 km se natuurskoon strek en deelnemers sal deur die hart van die Klein Karoo beweeg en besoeke by geskiedkundige sandsteenkerke aflê. Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sal die staptoer begelei.
Die doel van die staptog is nie net om ’n geestelike en fisieke uitdaging te bied nie, maar ook om geld in te samel vir Solidariteit Helpende Hand se projekte in die Wes-Kaap.
“Ons trek weg in Oudtshoorn en stap al met die agterpaaie langs verby plase in pragtige natuurskoon. Die roete strek oor agt dae en die daaglikse stapafstande wissel tussen 14 en 29 km,” sê Ockie Cloete, direkteur van die Klein Karoo Camino. “Ons besoek onder andere die Rooms-Katolieke kerk se uitbeelding van die lydensweg, stap verby olyfboorde en leer meer oor die vervaardiging van olyfolie. Een rusdag op ’n plaas is ingesluit, waar jy in die plaasdam kan swem, kan ontspan of van die kort roetes op die plaas gaan stap.”
Cloete sê ’n Bybelse tuin gee tyd vir besinning terwyl die natuurskoon en die unieke fynbos in die omgewing bekoor.
Terug in Oudtshoorn gaan die groep ’n paar indrukwekkende kerkgeboue besoek, waaronder ‘n katedraal en ‘n sinagoge. “Saam met Hannes glo ons dat hierdie ervaring verrykend sal wees en dat jy geïnspireer sal voel om jou lewenspad sinvol verder te stap. Terselfdertyd ondersteun ons ook Helpende Hand se Kosblikkie-projek en streef daarna om ’n verskil te maak daar waar dit saak maak.”
- Indien dié avontuur jou belangstelling prikkel, kontak gerus die Klein Karoo Camino vir inligting by operations@kleinkaroocamino.co.za of media@kleinkaroocamino.co.za.