’n Groep vroue van die Pniël-vrouedigters het Saterdag 30 April die eerste keer by die Rupert-museum opgetree. Hul optredes het veral klem gelê op slawerny, kolonialisme, Apartheid en ander soorte onreg. Die optredes was deel van die Rupert-museum se museumdag.
“My hero was just a boy behind bars because he believed we had a say. While danger lurked in the dark corridors of prison, freedom songs were sung to keep sleep at bay,” het ’n emosionele Shereen Adams, een van die digters, in haar gedig gesê.
Adams het die storie van haar broer vertel wat op ’n jong ouderdom vir drie maande deur die Apartheid-polisie opgesluit is omdat hy vir die regte van swartmense opgestaan het.
Volgens Adams was “vryheid” die tema van die aangeleentheid aangesien Suid-Afrika in April vanjaar altesaam 28 jaar van vryheid gevier het.
Die bekroonde en ikoniese digter dr. Diana Ferrus, wat onlangs ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang het, was die eregas by die geleentheid.
“Ek voel baie geëerd oor die toekenning, en dit is vir my ’n teken dat handwerk beloon word,” het Ferrus oor die eredoktorsgraad aan Eikestadnuus genoem.
Ferrus het haar bekende gedig, My naam is Februarie, voorgehou. Dit handel oor die slaweskip São José wat in 1794 gesink het. Van sowat 500 slawe op die skip het 200 verdink en die res is aan die Kaap verkoop.
Volgens Ferrus moet ons altyd ons geskiedenis onthou en erken:
“Ons staan op die verlede se kop, en om te bepaal waarheen ons gaan, moet ons weet waarvandaan ons kom. En in my gedigte is die verlede altyd die teenwoordige tyd en selfs ook die toekoms.”
Ferrus meen ons kan nie van ons verlede vergeet nie, maar moet dit vir die toekoms gebruik.
“Die stukkies van die verlede is lesse vir die toekoms. Dus voel ek kunstenaars en digters moet daaroor kan dig – en dit hoef natuurlik nie altyd polities te wees nie.”